BYBELBAAK 56
Halloween is ‘n fees wat gewoonlik op 31 Oktober, die tradisionele Allerheilige-aand, gevier word. Halloweenvieringe vind vandag wêreldwyd plaas, al is dit grootliks ‘n afgietsel van die Amerikaanse popkultuur wat deur die multimiljoenrandse waarde daarvan gedryf word. Die Katolieke feesdag op 1 November staan as All Saints’ Day of All Hallows Day (Allerheiligedag) bekend. Heel gou het dit egter gebruiklik geraak om die vieringe na die vorige aand te verskuif. Die fees van die vorige aand staan as Hallows-even of Halloween (Allerheiligeaand) bekend. ( -even of -eve dui op die vorige aand, net soos in Oukersaand of Oujaarsaand, wat die vorige aand gevier word). Die viering van Halloween op die aand van 31 Oktober het nie net met die Keltiese nuwejaarsviering saamgeval nie, maar ook spoedig die karakter en inhoud daarvan oorgeneem. Dit is in die lig hiervan duidelik dat die Katolieke se verering van gestorwe heiliges, hulle opvatting oor die vaevuur, asook die feit dat daar ná ‘n persoon se dood boete gedoen en vir die vergifnis van sy sondes gebid kan word, ‘n onmiskenbare heidense inslag het. Baie min mense wat Halloween vandag as ‘n vrolike bygeloof en net ‘n vorm van onskuldige vermaak vier, doen dit met die oorsprong daarvan in gedagte nie. Die Keltiese Britte en Iere vier van die voor-Christelike tydperk af die Dag van die Oorledenes op Allerheilige-dag (1 November). Op hierdie dag, wat Samhain genoem word, het die oorledenes glo uit hulle grafte verrys, en kos is voor die deure neergelê om hulle aan te trek. Om die bose geeste te laat skrik, het die Kelte maskers gedra. Toe die Romeine Brittanje verower, begin hulle die Keltiese tradisie met hulle eie oesfees en verering van die oorledenes, vermeng. Halloween word deur sommige mense met die okkultisme geassosieer, aangesien die nag van Halloween in die heidense kultuur een van die spesiale tye van die jaar is wanneer, volgens hulle, die wêreld van die geeste in aanraking kom met die wêreld van die lewendes en towery hoogty kan vier. Daar is geen Bybelse basis hiervoor nie. Die feit dat mense as wesens uit die onderwêreld (spoke, monsters, zombies, hekse of kabouters) aantrek, feesvure aansteek en skouspelagtige vuurwerke het, tradisies soos kinders wat vir lekkergoed vra en huise wat met uitgeholde pampoene versier word, gruwelike gesigte ens., dui meer ‘n fassinasie aan met die onsienlike verbeelde geesteswêreld as wat dit ‘n blootstelling en navolging van heidense tradisies is. Ons moderne samelewing is vasgevang in verskeie pagan of heidense tradisies, waaruit ons moeilik kan kom, want dit raak bv. die name van die week, die maande van die jaar, verskeie belangrike feeste, soos Paasfees, Kersfees, en dan ook, Halloween. Daar is gelowiges wat groot klem op die demoniese wortels hiervan plaas, maar ek glo die eietydse samelewing het ‘n eie definisie aan korporatiewe feeste en tydsmarkeringe gegee, en dat dit grootliks los is van moontlike demoniese beïnvloeding. Gelei deur die Gees van God wat ons laat onderskei wat nodig is, is Tit. 1:15 die riglyn in die besluitneming oor deelname en viering van kollektiewe feeste: “Alle dinge is rein vir die reines; vir die besoedeldes en ongelowiges egter is niks rein nie, maar hulle verstand sowel as hulle gewete is besoedel.” Rom. 14:14 bied die riglyn vir gelowiges oor hierdie saak: “Ek weet en is oortuig in die Here Jesus dat niks op sigself onrein is nie, maar hy wat reken dat iets onrein is, vir hom is dit onrein.”
Dr. Tom Gouws