Mag Christene kos eet wat die Halaal-teken op het?

BYBELBAAK 35

Die halaalteken bevestig dat die vleis (of ander voedsel) in ooreenstemming met Islam se higiëniese kode en dieetreëls geslag of voorberei is. Dit is nie deel van enige offer nie, maar ‘n geloofsvoorskrif. Dit is soos die Joodse kosherreëls en behels o.a. dat die dier behoorlik moet uitbloei, dat die produk nie vark bevat nie, ens. Die kosherteken verskyn ook dikwels op die verpakking saam met die halaalteken. Die Bybel is eksplisiet oor sake van hierdie aard. In Mark. 7:15 maak Jesus dit duidelik: “Daar is niks wat van buite af in die mens ingaan wat hom onrein kan maak nie; maar die dinge wat van hom uitgaan, dít is die dinge wat die mens onrein maak.” Paulus sê in 1 Kor. 10:25 – “Eet alles wat in die slaghuis verkoop word sonder om navraag te doen, ter wille van die gewete.” En 1 Tim. 4:4-5 neem alle twyfel uit die weg: “Want alles wat deur God geskape is, is goed, en niks is verwerplik as dit met danksegging ontvang word nie; want dit word geheilig deur die woord van God en die gebed.”

Dr. Tom Gouws