BYBELBAAK 94
Die mediese wetenskap het dit moontlik gemaak om baie siek persone onbepaald deur lewensondersteunende masjiene te laat bly leef. Volgens ons regstelsel is ’n persoon dood wanneer daar geen breinaktiwiteit meer is nie. Die besluit om masjiene af te skakel, word geneem met die inagneming van breinaktiwiteit en die moontlike lewensgehalte ná die herstel. Daar is geen geloofsimplikasies wat ‘n rol speel wanneer daar besluit moet word om ’n die masjien af te skakel nie. Die Bybel is duidelik daaroor dat God die duur van die mens se lewe bepaal (Ps. 139:16), en Hy sou kan besluit om dit te verleng, soos met Hiskía die geval was (2Kon. 20:6). Lewensondersteunende masjiene hou mense egter kunsmatig aan die lewe; dit is streng gesproke die uitrek van die hoop dat daar dalk genesing kan gebeur. Breindood is dikwels die diagnose wat die finaliteite van die uitgestelde hoop tot ‘n einde bring. As ‘n persoon slegs deur masjiene aan die lewe gehou word, is dit oneties en selfsugtig om nié die masjiene af te sit nie. Sou God wel die persoon aan die lewe wil hou, is Hy heeltemal daartoe in staat om dit sonder die hulp van masjiene te doen – “Want geen ding sal by God onmoontlik wees nie.” (Luk. 1:37) Niemand moet alleen so ‘n moeilike en pynlike besluit nie – die hele familie moet konsensus hê. Praat rustig met die pasiënt, selfs al reageer hy nie daarop nie. Bemoedig, bied vergifnis en vryspraak aan en neem afskeid. Die dood is in elk geval net ‘n poort tot ‘n ander dimensie van bestaan waar daar geen dood meer is nie (Op. 21:4). Jesus se vertroostende woorde in Joh. 11:25-26 spel dit onteenseglik uit: “wie in My glo, sal lewe al het hy ook gesterwe; en elkeen wat lewe en in My glo, sal nooit sterwe tot in ewigheid nie. Glo jy dit?” Die vraag is dus eintlik: “Glo jy dit?”
Dr. Tom Gouws