BYBELBAAK 120
Inderdaad was Billy Graham een van die grootste Christelike evangeliste van alle tye. Hy het deur sy bediening, veral die massasaamtrekke, asook prediking op radio en tv, deur boeke, traktate, en steeds deur die internet, miljoene mense met die evangelieboodskap van die redding in Jesus Christus bedien. Hy het ook ‘n groot inspraak gehad as geestelike vader van baie predikers en presidente en was besonder invloedryk as ‘n ambassadeur en kampvegter van die Christelike geloof. Hy het wêreldwyd die Christelike wêreldbeskouing van menigtes deur sy eenvoudige, konsistente en kragtige boodskap gevorm, en staan derhalwe in die sekulêre wêreld as die “Great Legitimator” bekend, miskien veral oor sy poging tot onpartydigheid, en sy tradisionele benadering tot praktiese geloofsuitoefening. Daar is egter ook ernstige beskuldigings wat ingebring word teen Graham, onder meer dat hy ‘n Vrymesselaar is, die oudste lid van die Illuminati ooit was, dat hy ‘n Satanistiese agenda gedryf het, en verskeie ander afgryslikhede. Kontroversiële standpunte van Graham oor vroue, selfdegeslagverhoudings, Jode, en so meer, word dikwels deur sy kritici aan die groot klok gehang. Daar is verskeie samesweringsteorieë wat Billy Graham impliseer. Die Skrif waarsku alle gelowiges dat ons met die gawe van onderskeiding van geeste (1Kor. 12:10) “die valse profete wat in skaapsklere na julle kom en van binne roofsugtige wolwe is” (Matt. 7:15) móét onderskei. MAAR Christene mag nooit ooit enige persoon belaster nie (Tit. 3:2), en helaas is daar baie mense en sogenaamde bedieninge wat nét daarop gerig is om te belaster wat hul nie werklik ken nie (Judas 1:10). Ons moet absoluut waak teen predikers wat ‘n ander Jesus verkondig as wat die Skrifte verkondig het, en seker maak dat ons nie ‘n ander gees ontvang as die Heilige Gees nie, en nie ‘n ander evangelie aanneem nie (2Kor. 11:4). Onthou: die evangelie van God (Rom. 1:1) ontvou in drie: allereers die evangelie van redding (Ef. 1:13), of die evengelie van Jesus (Hand. 8:35), wat Billy Graham hoofsaaklik verkondig het; dan ontvou dit in die evangelie van die koninkryk van God (Luk. 16:16); en dan ontvou dit in die evangelie van die heerlikheid (2Kor. 4:4), wat ook die evangelie van die Christus (2Kor. 10:14) genoem kan word. Al drie hierdie evangelies bring mee dat “die koninkryke van die wêreld … die eiendom (word) van onse Here Jesus … en van sy Christus” (Op. 11:5). Daar is onteenseglik soms dinge wat deur groot gelowiges gedoen word wat perdalks ‘n ander agenda dryf, maar Jesus se riglyn in Mark. 9:38-40) oor hierdie saak is vir my onteenseglik duidelik: “Toe antwoord Johannes Hom en sê: Meester, ons het iemand gesien wat in u Naam duiwels uitdryf en wat ons nie volg nie; en ons het hom belet, omdat hy ons nie volg nie. Maar Jesus sê: Moet hom nie belet nie, want daar is niemand wat ‘n krag in my Naam sal doen en gou van My sal kan kwaadspreek nie; want wie nie teen ons is nie, is vir ons.”
Dr. Tom Gouws