Moet Afrikaners steeds Geloftedag vier?

 

BYBELBAAK 84

 

Die Voortrekkers wat die gelofte in 1838 afgelê het, net voor die slag van Bloedrivier met die Zoeloes, was Christene wat in hulle eenvoud en eksistensiële nood in totale afhanklikheid voor God gaan staan het, en bely het dat God die lotgevalle van volke en nasies bepaal. Na diepe besinning en in ooreenstemming met hulle Skrifverstaan en die teologie van daardie tyd, ook hul identifikasie met Israel as ‘n uitverkore verbondsvolk, het hulle ’n gelofte afgelê wat baie ooreenkomste toon met die Ou-Testamentiese geloftes wat in die Bybel voorkom. Die Voortrekkers het ‘n verbond met God gesluit namens hulle en hul nageslag om te verseker dat hulle hul vyand sou oorwin. Die gelofte het hulle verbind om ’n gedenkhuis tot God se eer op te rig en dat hulle en hul nageslag 16 Desember as ‘n sabbat aan die Here sal wy. Na die fabelagtige oorwinning is daar wyd konsensus dat dit onmoontlik was sonder God se ingryping; die Slag van Bloedrivier was voorts ook grootliks bepalend vir die sukses van die Groot Trek, waarsonder die Afrikaner nie dieper in die vasteland gevestig sou wees nie, want die hele laer sou uitgewis gewees het. Die Voortrekkers het die Geloftekerk in Pietermaritzburg opgerig as gedenkhuis. (Later is die Voortrekkermonument ook met dieselfde bedoeling gebou, maar met wyer negatiewe geestelike implikasies – sien Denise Woods se boek: ‘Oes die Stormwind van Volksgodsdiens’.) Maar om die vraag hierbo te beantwoord, moet ons ‘n paar dinge uitspel. Eerstens: Die Bybel is streng oor die nakoming van beloftes wat met geloftes gemaak word – geloftes móét betaal word (Ps. 116:14; Deut. 23:21-23). As jy nie iets kan doen wat jy God in ‘n gelofte afgebid het nie, vra om vergifnis en maak die gelofte dan so ontdaan, anders word dit sonde IN jou (Pred. 5:3-5). God bly getrou, al is ons ontrou (2Tim. 2:13). ‘n Mens moet nooit ‘n onversigtige gelofte aflê nie. Toe Jefta dit gedoen het, was hy agterna verplig om die gelofte na te kom, al het dit sy enigste dogter gekos. (Rigt. 11:30-40). Tweedens: in die nuwe verbond kan daar nie korporatief geloftes gesluit word wat nageslagte bind nie (Klaagl. 5:7) – elke mens dra sy eie verantwoordelikheid (Gal. 6:5; Rom. 14:12; Eseg. 18:2-3). Dit onthef die nageslag van die nakoming van voorvaders se beloftes. Derdens – daar is in 2006 ‘n nasionale herroeping gewees van die verbond, en ‘n herverbintenis van die kollektiewe Afrikaner om verantwoordelikheid te neem vir God se agenda vir wit, bruin en swart Afrikaners in Afrika.

Dr. Tom Gouws