Moet elke persoon wat gelowig is, eers ‘n Damaskus-bekering ondervind en dan gedoop word om te kan sê ek is gered?

 

BYBELBAAK 130

 

Die verwysing wat in jou vraag voorkom, is die dramatiese bekering van Saulus, waarvan ons in Hand. 9 lees. Saulus was ‘n diep godsdienstige man en onberispelik in sy lewenswandel, goed onderlê in die teologie, vol ywer vir God (Fil. 3:5-6). Maar ten spyte van dit alles, het Hy nie ‘n lewende persoonlike verhouding met die God gehad nie, bloot ‘n godsdienstige verhouding. Nog ‘n goeie voorbeeld is Apollos: “hy was magtig in die Skrifte. Hy het onderrig ontvang in die weg van die Here; en vurig van gees, het hy gespreek en die dinge aangaande die Here noukeurig geleer …” (Hand. 18:24-25), MAAR: “He had never heard the rest of the story!” (LB). Die wêreld, ook ons kerke, wemel van mense wat dínk hulle is gered omdat hulle bloot die kennis het van Jesus Christus se verlossingsplan. Kom ons vat net weer die weg van verlossing bondig saam: As jy God se roepstem hoor, en jy reageer, stap jy (uit keuse) vanuit die koninkryk van die wêreld (1Joh. 5:19). Die plek van ontmoeting is die kruis van Jesus en die verlossing wat Hy bied. Jou oortuiging van sonde en verlorenheid sonder Jesus (“sonder hoop en sonder God” – Efes. 2:12) laat jou hierdie offer aanneem. Die Bybel noem dit bekering. Joh. 1:12 – “Maar almal wat Hom aangeneem het, aan hulle het Hy mag gegee om kinders van God te word, aan hulle wat in sy Naam glo.” Daarom: as Rom. 10:9 sê: “As jy met jou mond die Here Jesus bely en met jou hart glo dat God Hom uit die dode opgewek het, sal jy gered word …”, word die res van die passasie wat volg, gebruik om te verduidelik hoe die kruis en die Woord van God interaktief funksioneer: “Want: Elkeen wat die Naam van die Here aanroep, sal gered word. Hoe kan hulle Hom dan aanroep in wie hulle nie geglo het nie? En hoe kan hulle in Hom glo van wie hulle nie gehoor het nie? En hoe kan hulle hoor sonder een wat preek? En hoe kan hulle preek as hulle nie gestuur word nie? … Die geloof is dus uit die gehoor, en die gehoor is deur die woord van God.” (Rom. 10: 13-15a & 17). Die Woord van God, die Bybel, het ‘n bepaalde saadwaarde (Luk. 8:11) vir hulle wie se grond ontvanklik is – dit is diegene “who seize the Word and hold on no matter what, sticking with it until there’s a harvest” (Luk. 8:15, MSG). Onthou – op hierdie stadium is die gees nog nie opgewek nie, want die wedergeboorte het nog nie plaasgevind nie. Daarom is dit essensieel dat die kruis en die Woord interaktief funksioneer om die waarheid van die verlossing bekend te maak sodat “die woord van God (kan) … werk in julle wat glo” (1Thes. 2:13). Deur “die woord van die waarheid van die evangelie” (Kol. 1:5) te hoor, aan te neem en te leer ken, dra dit vrug (Kol. 1:6), want “die woord van God is lewend en kragtig en skerper as enige tweesnydende swaard, en dring deur tot die skeiding van siel en gees” (Heb. 4:12). Jy is dan gered, maar nog nie wedergebore nie, en derhalwe nog nie met die Gees van God gevul nie. Die Woord van God maak dit moontlik dat dié gelowige (wat nog net in sielsdimensie funksioneer) begelei kan word om toegang tot die geesdimensie te kan begin verkry, want die Woord dring deur tot die skeiding tussen siel en gees! Hoe wonderbaarlik het God dit nie ontwerp nie! Daarom, soos 1Pet. 2:2 sê, moet hulle “verlang soos pasgebore kindertjies na die onvervalste melk van die woord, dat julle daardeur kan opgroei”. God se ontvouende verlossingsplan eindig egter nie hier nie, en die volgende stap is wedergeboorte, waaroor ons al in die Bybelbaak geskryf het. Slegs deur wedergeboorte kom jy in die koninkryk van God (Joh. 3:3 & 5). Terug by Saulus – hy moes op dramatiese manier uit sy godsdienstigheid geruk word tot bekering. As simboliese gebaar, verander God toe sy naam (= identiteit) van Saulus na Paulus. Maar nie almal het wel só ‘n dag en datum van bekering nie, party het baie sulke datums! Sommige gelowiges is groot gemaak om die Here te dien (soos bv. Samuel en Timótheüs) en hulle het sodoende in ‘n verhouding met God gekom, en het dus nie ‘n dramatiese bekering nodig nie. Máár – hulle moet almal dan steeds wedergebore word deur die doping met water en die doping deur Gees.

Dr. Tom Gouws