Moet/mag ‘n mens met ‘n tallit (talliet) bid?

 

BYBELBAAK 155

 

‘n Tallit is ‘n reghoekige Joodse gebedsmantel van wit katoen, wol of sy, met swart of blou strepe, wat aan die vier hoeke spesifiek geknoopte fraiings (uit die Oudfrans: ‘frange’, in Engels ‘fringe’), ook tsietsies (of in Nederlands: gedenkkwassies of gebedsrieme) genoem, wat mans tradisioneel tydens die rituele oggendgebed dra. Ortodokse Jode dra die kleed met die herinneringsgoiings onder hulle klere, dat net die tallittoutjies uithang sodat hulle dit kan vryf ter herinnering aan die tora se 613 wette. Hierdie kledingstuk het met verloop van tyd ‘n gewilde godsdienstige kledingstuk by Christene geword, veral deur die toenemende invloed van die Nuwe Judaïsme. Die klaarblyklike oorsprong van die tallit is Num. 15:38-41 en Deut. 22:12 waar God aan die Israeliete die opdrag gee om vir hul klossies maak aan die hoeke van hul klere, en aan die hoekklossies ‘n draad van pers stof vas te bind, sodat as hulle dit sien, hulle aan al die gebooie van die HERE dink, en dit doen. Dit is die heel enigste verwysing na iets van dié aard in die tora, maar dit spesifiseer gewone klere, en dus geensins ‘n gebedsjaal nie. Dit moes grootliks ‘n godsdienstige ritueelkleed volgens oorlewering geword het, want in die tyd van Jesus het Hy verwys na die skrifgeleerdes en die Fariseërs wat op die stoel van Moses sit, wette en voorskrifte vir ander maak – hulle is gekenmerk daaraan dat “hul gedenkseëls breed (is) en die some van hul klere groot” (Matt. 23:2-5), “so to seem more zealous for the law” (DRB). Die feit dat bv. die vrou wat aan bloedvloeiing gely het aan die soom van Jesus se kleed geraak het (Luk. 8:44), soos weliswaar ook baie ander (Mark. 6:56), beteken geensins dat Hy ‘n tallit gedra het nie. Duidelik het die krag uit Jesus gegaan, nie as gevolg van sy klere of die reminissensietoutjies wat Hy dalk gedra het nie. Te oordeel aan sy neef, Johannes die Doper, vir wie oorlewering se “pragtige klere” (Luk. 7:25) nul en gener waarde gehad het, het Jesus bes moontlik met dieselfde minagting na klere-oorlewering en uiterlike vertoon gekyk. Moet julle nie kwel oor wat julle sal aantrek nie, het Hy gesê (Matt. 6:31), en ook: Pas op vir die skrifgeleerdes wat hul geloof deur hul kleredrag wil vertoon (Mark. 12:38). Daar word groot gewag gemaak van die mistieke betekenis van God se Naam wat numerologies ingeweef is in sy kleed (volgens Op. 19:13 & 16) en die knope in die torringrafels van die tallit, maar dis alles menseheerlikheid; die ware heerlikheid is nie áán ons nie, dit is IN ons (Kol. 1:27). Daarbenewens, die tallit, kan ook simbolies as ‘n tipe guppa (= tent) gebruik word, waarin jy tot God afgesonder is as jy bid, jou eie domus (= koepel, die oorspronklike betekenis van die Hebreeuse woordjie ‘kippah’, of dan die Godkadot, wat heeltyd deur Joodse mans gedra word). Albei kledingstukke word gedra as ‘n tipe “canopy of spirit”, wat maar impliseer dat jy God as ’t ware in jou tentjie gevang het. Dit is duidelik ‘n buite-Bybelse gebruik ter voldoening aan die voorskrifte van die rabbinaat (= waardigheid van Joodse Skrifgeleerdes), maar is geensins Skriftuurlike opdragte of perspektief nie. Die rede waarom daar soveel druk is op Christene om te ver-joods in plaas daarvan om die suiwer evangelie te verkondig, dui onteenseglik op ‘n gees van godsdienstigheid. Kom weg van die diktaat van wettiesheid of eksterne vleeslike gebooie – dit staan die krag van die onvernietigbare lewe tee (Heb. 7:16). God word nie beweeg deur eksterne parafernalia soos klere, shofars, rituele, wat ook al, nie. Onthou waar God self sê in Eseg. 20:25 – “So het Ék dan ook aan hulle insettinge gegee wat nie goed was nie, en verordeninge waardeur hulle nie sou lewe nie.” Hoeveel des te meer walg die mensgemaakte tradisies wat as Godsverering en getroue geloofsfunksionering gedoen word, Hom nie? Rom. 10:3-4 stel dit onomwonde dat die opheffing van die wet gebeur het a.g.v. die swakheid en nutteloosheid daarvan, en “omdat die wet niks volkome gemaak het nie” (Heb. 7:19). Slotsom – volgens 1Kor. 11:4 & 7 moet die man in elk geval nie sy hoof bedek as hy bid nie of profeteer nie, “omdat hy die beeld en heerlikheid van God is”. Die tallit of kippah is geen aanduiding van “die verborge mens van die hart” nie, wat veel, veel eerder “in die onverganklike versiering van ‘n sagmoedige en stille gees, wat baie kosbaar is voor God”, geklee moet wees (1Pet. 3:4).

Dr. Tom Gouws