Moet ons as Christene bid voor ons eet?

 

BYBELBAAK 122

 

Daar is niks wat Christene uit geloofsplig MOET doen nie. Die ganse nuwe verbond is gegrondves in die vryheid van keuse – die seuns van God is vry in alle dinge (Matt. 17:26). Ons word egter dikwels jammerlik deur gewoonte, tradisie en oorlewering gedryf. Die Bybel maak dit duidelik dat ons ons moet bekeer van “dooie werke” (Heb. 6:1) as ons dink dat ons God deur ons godsdienstigheid behaag. Trouens, die teendeel is waar: “Thus you are nullifying and making void and of no effect [the authority of] the Word of God through your tradition, which you [in turn] hand on. And many things of this kind you are doing.” (Mark 7:13, AMP). Ons doen baie dinge uit geloofsgewoontes, sonder dat dit spreek van verhouding met God. As jou gebed aan tafel net ‘n rammelrympie of ‘n gewoontespreuk is om jou gewete te sus, hou asseblief eerder op daarmee. As gebed ‘n ritueel is om mense attent te maak van jou geloofsposisie (bv. by besigheidsetes, of met formele geleenthede), is dit bepaald Godsonterend. As dit ‘n omhaal van baie woorde is, met baie geykte uitdrukkings, is dit nie ‘n gebed tot God nie, maar ‘n uitstal van jou godsdienstigheid, waarmee God in elk geval niks te doen wil hê nie. Daar is ‘n goeie aantal verwysings na danksegging voor ete in die ou verbond (1Sam. 9:13) en in die nuwe verbond (Matt. 15:36; Hand. 27:35). Die beginsel wat dit onderlê, is eenvoudig: “Want alles wat deur God geskape is, is goed, en niks is verwerplik as dit met danksegging ontvang word nie; want dit word geheilig deur die woord van God en die gebed.” (1Tim. 4:4-5). Vir my is Rom. 14:6 ‘n riglyn: “wie eet, eet tot eer van die Here, want hy dank God; en wie nie eet nie, eet nie tot eer van die Here, en hy dank God”. In sy boek: Food and Faith: A Theology of Eating, skryf Norman Wirzba: “When we say grace, we do not merely say a few words over our food. Rather, we are transformed so that our eating of life is also a sympathetic participation in the ways of life. Thanksgiving becomes the means through which we elevate and hold before each other the sanctity and grace of the world.” Met hierdie ingesteldheid is danksegging ‘n daad van transformasie, en kan ek maklik en vrymoedig, met ‘n volkome hart met etenstyd bid, want 1Kor. 10:31 word meesprekend van my lewe: “Of julle dan eet of drink of enigiets doen, doen alles tot verheerliking van God.” Want só ‘n hartsgesindheid voor ‘n ete bring ‘n bewustheid en erkenning vir die feit dat Jesus vir jou vra: Kan Ek saam met jou eet vandag? (Op. 3:20).

Dr. Tom Gouws