BYBELBAAK 92
Die mensdom noem onernstige onwaarhede “wit leuntjies” (in Afrikaans: noodleuntjies). Die verkleining dui veral op die feit dat dit oor die algemeen nie te ernstig bejeen moet word nie. Mense vertel dikwels net ‘n halwe waarheid, verswyg iets, of plaas die ware feite in ‘n effe ander konteks, dikwels met ‘n goeie persoonlike rede vir hul besluit om dit te doen. Die evangelie van Jesus Christus gaan nie oor onbenullighede nie, maar dit is verseker waar dat God niks gering ag nie (Job 36:5). Die vraag is uit watter misleidende diepte van onwaarheid aanhoudende noodleuntjies spruit. Ons weet uit Joh. 8:44 – “Julle het die duiwel as vader, en die begeertes van julle vader wil julle doen … en staan nie in die waarheid nie, omdat daar in hom geen waarheid is nie. Wanneer hy leuentaal praat, praat hy uit sy eie, omdat hy ‘n leuenaar is en die vader daarvan.” (Joh 8:44). ‘n Mens moet derhalwe noodleuentjies ook plaas onder leuentaal, en dit verklap jou geestelike vaderskap. Die natuurlike/gevalle mens wat deur die saad van die slang (Gen. 3:15) funksioneer, kan nie anders as om te lieg nie. Die oënskynlike halwe waarheid van die slang aan Eva (Gen. 3:1-5) het die ganse mensdom enorme skade gedoen. Ons denk- en verbeeldingskapasiteit is onherroepelik deel van ons gevalle natuur – dit skep ‘n valse realiteit van leuenagtigheid. Die ou mens Adam in elkeen is die funksionering van “the evil principle” in ons. Hierdie begrip van Leanne Payne dui op die komplekse bose staat van die natuurlike mens. Sy noem dit “the hell of our false selves”, en stel dit teenoor “the reality of God, present in and through His creation”, wat sy “incarnational reality” noem (p.10). In ons diepste motiewe en diepgesetelde eiesinnigheid en selfbeheptheid, probeer ons die waarheid oorsien, verbykyk, afwit, maak asof dit nie (heeltemal) waar is nie. We are continually engaged in sweeping the evidence of our evil under the rug of our own consciousness. Ons kan altyd ‘n baie goeie rede vind hoekom ons uiteindelik doen wat ons doen – ‘n mens noem dit rasionalisering. Peck sê in sy boek People of the Lie: “The wickedness of the evil is not committed directly, but indirectly as part of this cover-up process. Evil originates not in the absence of guilt but in the effort to escape it.” (p. 85). Die sielkunde noem rasionalisering ‘n verdedigingsmeganisme, maar uit ‘n geestelike oogpunt bevestig dit net ons leuenagtige wesensaard. Craig Hill konfronteer hierdie krisis van die meeste gelowiges in sy boek Deceived, Who Me? waarin hy sy persoonlike getuienis gee oor hoe hy deur eiegeregtigheid en deur die regte dinge te doen en te sê homself ongesiens deur rasionalisasie laat mislei het. Terwyl hy oortuig was dat hy in die Gees gewandel het, het hy enige aanduidings van die “promptings of the Holy Spirit” (Rom. 7:6) begin oorsien, effens geïgnoreer, later sommer as irrelevante skuldgevoelens probeer afmaak. Dít alles is die werking van die gees van leuenagtigheid IN ons. Hill verduidelik hoe in sy lewe die leuen telkens ingesluip het in eenvoudige, amper onbenullige situasies, en dat hy mettertyd besef het die rede daarvoor is dat hy telkens die onwaarheid voorhou omdat hy die realiteit, wat die waarheid dalk mag oopvlek, in werklikheid vrees. Die gees van leuenagtigheid is dikwels die skadu-makker van die gees van vrees. 1Joh. 2:21 stel ‘n praktiese riglyn rondom leuenagtigheid: “geen leuen (is) uit die waarheid is nie”. Halwe waarhede, stilswye, ongeregtige nadruk, hiperbole, verkleining, valsheid, geveinsdheid, dubbele standaarde, selfs iets soos om iemand valslik te vlei (Ps. 5:9; 12:2; 62:4), en inderdaad ook noodleuentjies. Dis veelseggend dat in 1Tim. 1:8-11 Paulus ‘n hele klompie ongeregtighede saamgroepeer wat “in stryd is” met spesifiek “die evangelie van die heerlikheid”. Hy benoem dan hierdie daders van die ongeregtigheid, en die lysie is skrikwekkend: moordenaars, hoereerders, mensediewe, byvoorbeeld, maar dan ook pertinent: leuenaars. Jakob die bedrieër het al lank ‘n pad met God geloop, maar hy moes by ‘n plek kom waar hy homself in sy subtiele leuenagtige self moes konfronteer – dit het by ‘n drif in die Jabbok (Gen. 32: 22) gebeur, wat in Hebreeus beteken: “place of emptying”. Dit is tyd dat elkeen in die Bruid haarself van leuenagtigheid sal ledig, want ‘n identiteit van waarheid is ononderhandelbaar in die verwerwing van die goddelike natuur.
Dr. Tom Gouws