My man vervul nie die rol van koning, priester en profeet in ons huis nie. Hoe kan ek dit doen sonder om oordeel oor my gesin te bring?

 

BYBELBAAK 113

 

Dis ironies genoeg dikwels vroue wat mans aanmoedig om die koning, priester en profeet van hul huis te word, want dit word gepredik dat dit is soos God dit vereis. Dit klink na ‘n mooi geestelike ding om te sê, maar dis glad nie Bybels nie, en perpetueer ‘n gewaande skeiding tussen manlike en vroulike outoriteit. Hoekom sê ons so? In die Woord is daar onteenseglik nie meer man en vrou nie, weet ons onteenseglik deeglik uit Gal. 3:28. Kan ‘n vrou dus ook ‘n koning, priester en profeet wees? Absoluut! Op. 5:9-10 handel oor die eerste twee begrippe. In ‘n brief wat geskryf is aan God se “diensknegte” (Op. 1:1), aan die sewe gemeentes van Asië” (1:4), wat duidelik ook vroue ingesluit het (2:20), sê dit in die ‘Lied van die Lam’, wat AL die verlostes sal sing: “U … het ons konings en priesters vir onse God gemaak, en ons sal as konings op die aarde heers.” Mans én vroue kan deel van die “koninklike priesterdom” wees waarvan 1Pet. 2:9 praat. En die profeet-kwalifisering? Alhoewel alle gelowiges (nié alle mense nie) geroep is tot konings en priesters, is almal nie as profete geroep nie. Alle mans is dus nie noodwendig profete nie. En daarmee saam: die Skrif is vol van vroue wat wél as profete opgetree het: Miriam (Eks. 15:20), Debora (Rigt. 4:4-5), Hulda (2Kon. 22:14), Noadia (Neh. 6:14), Anna (Luk. 2:36-37) en die dogters van Filippus die evangelis (Hand. 21:8-9). Mans én vroue kan profete wees, maar is dit nie noodwendig nie, want profeetskap is ‘n spesifieke genadegawe van Christus (Ef. 4:11). Slotsom – die vaste uitdrukking ‘koning, priester en profeet van ons huis’ is nie Bybels nie, en veral nie geslagspesifiek nie, maar ook nie soseer op elke huishouding van toepassing nie. Die lering wat jou dit wysgemaak het dat daar oordeel en straf oor die huishouding gaan kom a.g.v. ‘n moontlike sogenaamde outoriteitswanbalans, is van alle waarheid ontbloot – “daar is GEEN veroordeling vir die wat in Christus Jesus is nie” (Rom. 8:1).

Dr. Tom Gouws