My pastoor beskuldig my dat ek ‘n onleerbare gees het. Wat presies bedoel hy daarmee?

 

BYBELBAAK 127

 

Die woordeboek definieer “teachable” as: “capable of being taught, apt and willing to learn, favorable to teaching”. ‘Unteachable’ dui dan uiteraard op die teendeel daarvan. Dis interessant dat onleerbaarheid bykans nét gekwalifiseer kan word deur die ander pool daarvan, naamlik leerbaarheid. ‘n Persoon met ‘n leerbare gees veronderstel dat hy/sy bereidwillig is om nuwe inligting te kan integreer met ‘n bestaande kennisraamwerk en dat hy/sy daarmee saam ook bereid is om self standpunte wat lynreg indruis teen sy/haar oortuigings te oorweeg en dit selfs deel van hul verstaanswêreld te maak. Hulle word nie bedreig deur nuwe, vreemde of selfs aweregse idees nie. Hulle betrag in liefde die waarheid (Ef. 4:15). Die persoon met ‘n leerbare gees het dus ‘n oop kennissisteem en nie ‘n geslote kennissisteem nie. Hy/sy is seker van die fundamentele waarheid sonder dat dit ‘n intellektuele tronk vir hulle word. Hulle is egter ook nie soos naïewe goedgelowiges “wat soos golwe geslinger en heen en weer gedryf word deur elke wind van lering” (Ef. 4:14) nie. ‘n Leerbare gelowige weet ook hý/sý ken ten dele, en profeteer ten dele en sien deur ‘n spieël in ‘n raaisel (1Kor. 13:9 & 12). Daar is ‘n dringendheid by God wat “wil hê dat alle mense … tot kennis van die waarheid kom” (Tit. 2:11). Maar ook Paulus stel dit onomwonde: “Wees my navolgers, soos ek dit ook van Christus is.” En daar was uiteraard ander voorlopers wat in woord en daad navolgers of dissipels of geestelike seuns gehad het (1Thes. 1:6; 2:14; Heb. 6:12). Dit is opmerklik dat gelowiges wat nie geneë is tot geestelike vader- en seunskap nie dikwels ‘n onleerbare gees het. Die kennis wat ons almal moet verwerf, is egter nie net blote boekekennis nie (maar is dit ook!), maar ook “die kennis van sy wil in alle wysheid en geestelike insig” (Kol. 1:9). Hierdie kennis wat ons moet verkry, beslaan “alle rykdom van die volle versekerdheid van insig, om die verborgenheid te leer ken van God en die Vader en van Christus in wie al die skatte van wysheid en kennis verborge is” (Kol. 2:2-3). Ons moet “toeneem in kennis van onse Here en Saligmaker, Jesus Christus” (2Pet. 3:18). ‘n Leerbare gees bring mee, soos Job 29:4 so mooi sê, dat die verborgenheid van God oor jou kan tabernakel! In 2Pet. 1:8 word alle gelowiges vermaan om nie “ledig of onvrugbaar tot die kennis van onse Here Jesus Christus” te wees nie. Om hierdie ontsagwekkende kennisbasis te ontsluit, het elke gelowige “die Gees van wysheid en openbaring in kennis van Hom” (Ef. 1:17) absoluut broodnodig, want nét van Hom kom “wysheid en kennis en vreugde” wat nié tevergeefs is nie (Pred. 2:26). As kennis nie van God self kom nie, sal die kennisinhoude bloot steriele saad wees, en die gelowiges bloot mense “wat altyd leer en nooit tot die kennis van die waarheid kan kom nie” (2Tim. 3:17). Niemand, en geen kerklike groep, het derhalwe die volle waarheid in pag nie. Kerklike dogma wat in belydenisskrifte as “die volkome leer van die saligheid” voorgehou word, is dus absoluut misleidend, want openbaring is noodwendig altyd ontvouend.

Dr. Tom Gouws