BYBELBAAK 85
Nee. Dié profesieë korrespondeer nie met die Bybelse waarheid nie, en is derhalwe vals (Joh. 17:17). Eerstens: Paulus spel uit in Gal. 4:25 dat “die teenswoordige Jerusalem … is met haar kinders saam in slawerny”. Die Bruid van Christus is nou die nuwe Jerusalem (Open. 21:2&10), en simbolies het die gelowiges rééds “gekom by … die stad van die lewende God, die hemelse Jerusalem” (Heb. 12:22). Dit is ‘n onbybelse oorlewering dat die huidige Jerusalem enigsins belangrik is ten opsigte van die sg. eindtyd (Joh. 4:20-24). Tweedens: In sommige vertalings word antichris as ‘n eienaam voorgehou, wat die indruk skep dat dit ‘n enkele persoon is, maar dis nie so nie. The Message stel dit reg: “You heard that Antichrist is coming. Well, they’re all over the place, antichrists everywhere you look.” Uit dié vers, 1Joh. 2:18, word dit duidelik gestel dat die antichris ‘n korporatiewe entiteit is wat teenoor die Christus, ook ‘n korporatiewe entiteit, staan. Analoog hieraan staan die simboliese stad Babilon teenoor die simboliese stad van die Nuwe Jersusalem, wat die Bruid voorstel. Babilon (= finansies, politiek en godsdiens) vorm die korporatief van die vals Bruid. Daarbenewens weet ons dat die gees van die antichris nie soseer teen Christus is nie, maar homself voorhou as in die plek van Christus – dit is in Grieks die betekenis van die voorvoegsel ‘anti-‘. Dus is die gees van die antichristus die instigerende faktor teen almal wat bely dat Christus in die vlees gekom het (d.w.s. nie net in Jesus nie, maar ook in Christus), soos 2Joh. 1:7 dit dan ook uitspel: “Want baie verleiers het in die wêreld ingekom: die wat nie bely dat Jesus Christus in die vlees gekom het nie. Dit is die verleier en die antichris.” God het in die vlees gekom het in die gestalte van Jesus (ons noem dit die inkarnasie – “die verborgenheid van die godsaligheid … God is geopenbaar in die vlees” – 1Tim. 3:16); maar God het Homself ook deur Jesus geïnkarneer in elke gelowige wat in Christus is. 1Joh. 4:3 sê eksplisiet die sogenaamde antichris is ‘n gees (nié ‘n persoon nie) wat ontken dat God in die vlees van Jesus gekom het (soos die Jode, byvoorbeeld), maar ook diégene wat ontken dat Jesus Christus, wat God is, geïnkarneer is en gemanifesteer en openbaar word in die vlees van sy veelledige Liggaam, die Bruid. Die woordjie ‘antichris’ kom nêrens in die boek Openbaring voor nie (net in die sendbriewe van Johannes, dieselfde outeur van Openbaring) – sou hy dit nie juis in dié boek moes vooropstel nie?
Dr. Tom Gouws