Praat God met ons deur omstandighede?

 

BYBELBAAK 106

 

Uiteraard is omstandighede ‘n baie subjektiewe maatstaf waarin ons die stem van God kan peil. Hoe onderskei ‘n mens nou of dit wat met jou gebeur noodwendig is omdat God daarmee iets aan jou wil kommunikeer? Breedeweg gedefinieer bedoel ons met begrip ‘omstandighede’ die volgende: “Omstandighede is gebeure wat God gebruik om oor Hom en sy wil te praat.” Ongelowiges sal gebeure as ‘toevallig’ beskou, maar gelowiges sal dit raaksien en dink: en ‘toe val Lig’! Uit die Woord sal jy duisende voorbeelde kry van omstandighede wat God gebruik het om met mense te praat. Die groot soektog om vir sy seun Isak die regte vrou te kry, was vir Abraham geweldig belangrik. In Gen. 24 word in detail vertel hoe Abraham sy dienskneg onderrig het oor presies wat hy soek. Hy voer allerhande rituele uit (vers 2), laat die matchmaker sweer (vers 3), gee voorskrifte uit watter land en gebied sy moet kom, en kry toe hierdie profetiese insig van begeleide engeltoesig op die koop toe: God sal ‘n engel voor jou uitstuur sodat jy nie miskien, toevallig, die verkeerde keuse maak nie (vers 7)! Nou waar begin jy met so ‘n onderneming (en trap nie per ongeluk op die engel se vlerk nie)? In vers 11 lees ons dat die dienskneg een laatmiddag moeg en moedeloos gaan sit het by ‘n put om sy kamele te laat suip, aan die buitewyke van ‘n stad. Maar dan doen hy ‘n vreemde ding – hy bid, en sê: praat met my deur omstandighede. “Laat ek haar tog vandag ontmoet,” bid hy in vers 12, en in vers 14: “laat dit nou tog gebeur”. En hy gooi ‘n velletjie uit van hoe hy sal weet as dit nou werklik sý is. Vers 15 sê dan: “Hy het nog nie klaar gespreek nie, of daar kom Rebekka …” Lo and behold!. En sy is baie mooi en sy is ‘n maagd. Toevallig? Vers 21 sê dit dan mooi: “En die man het haar stilswyend betrag om te weet of die HERE sy weg voorspoedig gemaak het of nie.” In vers 27 kom hy tot die besef: “Wat my aangaan, die HERE het my op die weg gelei …” Het hy ‘n stem gehoor wat bulderend die pad aandui? Nee. Het die vrou met ‘n stralekrans aangestap gekom? Nee. Daar was baie toevallighede, maar die dienskneg was deurgaans in counsel met God, en inderdaad: die wil van God gebeur, selfs in die oënskynlike mogge troffe van gebeure. Inderdaad is dit soos Spr. 16:9 dit uitspel: “Die hart van die mens dink sy weg uit, maar die HERE rig sy voetstappe.” Daarom bely Jeremia (in 10:23): “Ek weet, o HERE, dat aan die mens sy weg nie toebehoort nie; nie aan ‘n man om te loop en sy voetstappe te rig nie.” Vir die gelowige is niks toevallig nie. As jy biddend bly loop, sal Hy jou paaie rig en word die hele wêreld ‘n bron van Goddelike inligting. Word bedag hoe Hy enigiets kan gebruik om met jou te praat. ’n Werksaanbod, ‘n advertensie, ‘n wolkformasie, ‘n dwaalsinnetjie uit ‘n gesprek, ‘n motorongeluk, ‘n onverwagse geskenk, ‘n buitengewone gesprek, iets wat jy optel, ‘n advertensiebord langs die pad, ‘n registrasienommer, ‘n kind wat jou aankyk en iets heeltemal buite orde sê … toe val Lig en jy wéét dat jy weet in jou gees God het vir jou rigting aangedui. Verenig dit wat jy gehoor/ervaar het met geloof (Heb. 4:2) en stap dan in gehoorsaamheid. Dis vir God belangriker dat jy gehoorsaam is as dat jy noodwendig reg hoor. As jy na Sy voorneme geroep is, sal Hy jou gehoorsaamheid tot jou beswil laat meewerk (Rom. 8:28).

Dr. Tom Gouws