Dag 417

“My susterbruid is … ‘n geslote bron, ‘n verseëlde fontein.”

(Hoogl 4:12, OAV)

 

Ons sal later in meer besonderhede uitkom by die verskillende fasette van skeppingsdoel, roeping en verkiesing, maar om die vrou by die fontein na regte te kan verstaan, moes ons eers kortweg na die fontein as simbool van skeppingsdoel gaan kyk, en dit kan nou eers gebeur as ons ‘n breë begrip het van wat die konsep behels.

As ons nou ‘n begrip het van Sion as die korporatiewe simbool van die Bruid deur die eeue, is Ps 87:5-7 vervolgens van groot belang: “En van Sion sal gesê word: Man vir man is daarin gebore, en Hy, die Allerhoogste, hou dit in stand. Die HERE sal tel as Hy die volke opskrywe: Hierdie een is daar gebore. Sela. En die wat sing sowel as die wat vrolik is, sê: Al my fonteine is in jou!” Let mooi op: die individuele wedergeboorte (Joh 3:3) is die toeganspoort tot die Bruid, maar dit is net die eerste poort (volgens Open 21:12) – later gaan ons in groot detail daarop in. Maar allereers MOET jy seker wees dat jy gebore is uit bloed en water. Soos ons dit in ‘n vorige Manna dan ook verduidelik het, behels wedergeboorte nie net die aanvaarding van Jesus as Saligmaker en Verlosser nie, maar ook die doop van die gelowige. Eersgenoemde maak jou net ‘n kind van God (Joh 1:12), maar die doping met water en die doping met die Gees van God maak jou ‘n seun van God (Rom 8:14) – dan word jy deur die Gees van God gelei. [Jy kan uiteraard nie tot redding kom sonder die Gees van God nie. As jy gered is, het jy die Gees van God. Maar as jy gedoop is met water en Gees, het die Gees van God vir jou.]

Die meeste gelowiges is egter ‘n “verseëlde fontein”, met ander woorde iemand wat nie in sy skeppingsdoel opgestaan het nie.

Rebekka se skeppingsdoel as vrou van Isak het tot vervulling gekom by ‘n fontein. Sy word ook allerweë beskou as ‘n prototipe van die Bruid van Jesus, wat deur die Heilige Gees (“die dienskneg” of “helper” – Gen 15:2-3; John 14:16, GNB) gesoek en gevind word. (Sewe keer in hierdie kort gedeelte word die fontein benadruk.)

Wanneer Jakob oor sy seun Josef profeteer, word hy voorgehou as “‘n jong vrugteboom by ‘n fontein” (Gen 49:22), wat sy hoë roeping (Fil 3:14) uitwys.

In Jos 15 lees ons van Otniël, wie se naam beteken: “lion of God”, wat in opdrag van Kaleb ‘n bepaalde stam verslaan en sy dogter, Agsa, kon trou. Agsa kon ‘n bepaalde erfdeel ontvang, en aan haar word die erfdeel van Juda (die stam waaruit Jesus sou gebore word as “die leeu van Juda” – Open 5:5) toevertrou. En Juda se erfdeel is “fonteine op die hoogte en fonteine in die laagte. Dit is die erfdeel van die stam van die kinders van Juda, volgens hulle geslagte.” (Jos 15:19b-20). Sien asseblief die tipologie raak – die erfdeel van die Leeu van Juda is al die fonteine! Soos die Skrif hierbo dit gesê het: “Al my fonteine is in jou.”

As ons op ons geloofpad uit die land van slawerny is, en ons in die woestyn is op pad na die land van belofte, dat ons by Elim uitkom, daar in die gees, “waar twaalf waterfonteine en sewentig palmbome was” (Eks 15:27), dié simboliese toonbeeld van geestelike heerskappy (Jes 16:5). Die oop waterfonteine is die toonbeeld daarvan dat die Fontein van Lewende Water uit jou vloei (Joh 7:38; Open 21:6).

 

  • Sela: Bid oor Ps 74:15: “U het fontein … oopgeslaan; U het standhoudende riviere laat opdroog.”
  • Lees: Eks 8-10
  • Ondersoek die vervulling: Eks 10:23 (wenk: Jes 60:2; Joh 1:9; Hand 22:11; Open 21:23).
  • Delf dieper: Luister na Tom Gouws se cd-lering: Die Bruid is nog ‘n Geslote Fontein.