
BYBELBAAK 178
Nee, dit is nie so vir almal nie. Die Skrif waarna jy verwys, en wat dikwels deur welmenende jobstroosters misbruik word, is ‘n selfgeformuleerde ‘Skrifgedeelte’. Hulle sê gewoonlik: ‘Onthou – alles werk ten goede mee vir hulle wat God liefhet.’ Dit troos ons almal in moeilike omstandighede om dít te hoor, en ons weet verseker dat God ons liefhet, dus klou ons daaraan vas dat alles wel ten goede sal meewerk, selfs al het die ergste moontlike ding gebeur. Dit skep by mense hoop dat hierdie slegte gebeurtenis uiteindelik wél dan binne die wil van God vir ons in die toekoms nié meer sleg sal wees nie, maar dat ons later sal insien dat God dit gebruik het om iets beter tot stand te laat kom. Elke hoop van dié aard kom egter bedroë uit (Job 41:9). Die vers in Rom. 8:28 waarna hier verwys word, is: “En ons weet dat vir hulle wat God liefhet, alles ten goede meewerk …” Selde egter word die laaste, kwalifiserende deel van die sin ook aangehaal: “… vir hulle wat na sy voorneme geroep is”. Rom. 8:28 is ingebed in ‘n gedeelte (ons noem dit ook ‘n perikoop) wat konteks verskaf vir hierdie belangrike uitspraak. God laat wel ALLES ten goede meewerk, maar net indien jy na sy voorneme geroep is. Die God-bepaalde voorwaardes daarvoor word in besonderhede in vers 29 en 30 gegee. Dit wys verskeie ontvouende dinge uit wat onteenseglik in plek moet wees voor ek en jy kan aanspraak kan maak daarop dat ALLE dinge wat met ons gebeur ten goede sal meewerk, bv. dat ons roeping en verkiesing in die Liggaam van Christus vasgemaak moet wees (2Pet. 1:10). Dat alle dinge wél ten goede kan meewerk, is bepaald moontlik as jy in die volmaakte wil van God loop, nié net in die goeie of welgevallige wil van God nie (Rom. 12:2).
Dr. Tom Gouws