
BYBELBAAK 171
Die gesprek oor dinosourusse vorm deel van ‘n groter debat oor die ouderdom van die aarde, hoe Gen. 1-3 interpreteer word, die verskillende sienings oor die sogenaamde Bybelse tydlyn, asook die gewig van evolusionêre getuienis in jou interpretasie. 1. Voorstanders van die oortuiging dat daar wetenskaplike bewyse is dat die aarde miljoene jare oud is, die sogenaamde ouaardeteorie, glo oorwegend dinosourusse het uitgesterf lank voor die eerste mens op die aarde geleef het. 2. Dan is daar diegene wat glo dat God die aarde, volgens hul verstaan van Gen. 1, ongeveer 6000 jaar gelede geskep het, en dat die Bybel wél na hierdie diere verwys, maar dit uiteraard nie dinosourusse noem nie, maar reusagtige reptiliese diere wat op land en in die see voorgekom het. Die Hebreeuse woord hiervoor, ‘tanniyn’, meen hulle, word as seemonster, slang of draak vertaal. (Dit word uiteraard nie as dinosourusse benoem nie, want dié woord is eers in 1842 deur Richard Owen gemunt, en beteken: ‘vreeslike akkedis’.) Daar is sommige wat glo dat Job (40:15-24) na ‘n dinosourus (spesifiek ‘n Brachiosaurus) verwys as die woord ‘behemoth’ gebruik word, maar dit is ‘n baie poëtiese beskrywing, en vir die meeste kenners wetenskaplik onwaarskynlik. As ekstrabybelse argumente voer hulle aan dat in die meeste antieke beskawings is daar artefakte en petrogliewe wat reuse reptielagtige wesens uitbeeld wat verbasend baie na verskillende soorte dinosourusse lyk. Daar is ook Romeinse mosaïek, Maja-pottebakkerswerk en afbeeldinge op Babiloniese stadsmuurruïnes wat hul meen as bewys van die mens se blootstelling aan hierdie uitgestorwe oerdiere dien. Ook is daar voetafdrukke van mense en dinosourusse wat in dieselfde tyd gefossileer het (wel geen gefossileerde bene saam nie). Diegene wat hierdie jongaardeteorie voorstaan, glo die mens en dinosourusse het saambestaan, maar die diere het êrens na die vloed van Noag uitgesterf vanweë ‘n kombinasie van dramatiese omgewingsverskuiwings, dalk ook dat die mens hul genadeloos gejag het tot op die punt van totale uitsterwing. Kent Hovind, oftewel dr. Dino, is ‘n bekende fundamentalistiese Kreasonistiese evangelis wat kwasi-wetenskaplike-cum-Skriftuurlike teorieë voorhou, maar daar is helaas veel wetenskaplike probleme en teologiese wysmakery met sy verduideliking. 3. Daar is uiteraard verskeie ander sieninge oor dinosourusse in reliëf met óf wetenskaplike óf geloofsargumente, en soms ‘n interessante kombinasie van albei, waarop ons nie nou ingaan nie. 4. ‘n Beskouing wat getipeer kan word as Deïsties-evolusionisties (God-in-evolusie) meen dat ons definiëring van ‘n dag op grond van die posisie van die son in 24-uur-periodes geskied, en dat die son eers op die vierde skeppingsdag geskape is, wat beteken die eerste vier ‘dae’ van ongedetermineerde lengte was (ook in die lig van Ps. 90:4 en 2Pet. 3:8), bes moontlik miljoene jare, en dat die ses skeppingsdae van Gen. 1 ‘n metaforiese uiteensetting is wat oor miljoene jare evolusionêr gestalte gekry het in opeenvolgende geologiese epogge. 5. Dit bring egter een ernstige punt van verwarring egter na vore. As die Bybel dan in Rom. 5:12-14 sterflikheid as ‘n fenomeen absoluut koppel aan Adam se oortreding, beteken dit daar kon nie sterflikheid, verval, en veral die tweede wet van termodinamika: ‘Alles neig van ‘n staat van orde na ‘n staat van wanorde’ vóór dit moontlik wees nie, wat die teorie van evolusie (wat die siklus van lewe en dood veronderstel) ophef. Laat mens dink, né! 6. Is daar dus enige verwysing na dinosourusse in die Bybel? Nee, helaas nie. Daar is nog veel om openbaar te word.
Dr. Tom Gouws