BYBELBAAK 36
Onthou – die koninkryk van God kan net IN jou wees (Luk. 17:21), daarom praat Jesus in simboliese terme van hoe die geestelike saad (of oorsprong van die koninkryk) in ‘n fisiese mens gestalte kan kry. 1 Kor. 2:14 is ‘n goeie beginpunt om te verduidelik: “die natuurlike mens neem die dinge van die Gees van God nie aan nie; want dit is vir hom dwaasheid, en hy kan dit nie verstaan nie”. Let op – hy kán dit nie doen nie, selfs al is hy/sy hóé intelligent, of hóé ‘n goeie mens, of hóé godsdienstig. Dit is net so onmoontlik vir die ‘carnal mind’ om geestelike dinge te kan bedink as wat dit vir ‘n klip is om spontaan lewe voort te bring. Daar moet ‘n oordrag van lewe wees as die mens van ‘n natuurlike sfeer na ‘n hoër, geestelike sfeer wil gaan. Niks van die aarde kan net oorgaan in die koninkryk van God nie – dit moet van die hoër geestelike sfeer geïnisieer word! Die koninkryk van God, die hoër realm, moet die aardse realm met geweld in besit neem (Matt. 11:12). In die saad van die Woord (Luk. 8:11) is daar ‘n kiemsel van die lewe van God. Die saad wat daardie kiemsel van lewe bevat, word in die geestelik-dooie (= vleeslike mens) geplant. Sodra dit ontkiem, begin die lewe in die saad manifesteer deur die wetmatigheid wat Rom. 8:2 noem: “die wet van die Gees van die lewe in Christus Jesus” en dít maak jou dan vry van ‘n ander wet wat in jou gewerk het: “die wet van die sonde en die dood”. Soos “die onvernietigbare lewe” (Heb. 7:16) gestalte kry en vermeerder, neem dit met doelgerigtheid besit van die beskikbare elemente in die grond (= natuurlike mens, adama), en bou dan lewende weefsel uit stowwe wat nog nooit gelewe het nie. Die anorganiese dooie stowwe word wonderbaarlik lewende geestelike weefsel! Die dood word verslind deur die lewe (2 Kor. 5:4)! Die lewelose elemente van jou aarde word getransformeer in die lewende substans van die ‘plant’ (= die koninkryk). Die mees miniskule van alle sade word die grootste van alle kruie! Die plant wat diep uitreik na die dooie wêreld waarin dit ingebed is, raak die sterflike met die misterie van lewe aan, en neem dit NA BO in ‘n getransformeerde staat, sodat dit in die lewende sfeer kan bestaan. 1 Pet. 1:23 noem hierdie proses wedergeboorte, ‘n proses waardeur “die lewe van Jesus in ons sterflike vlees openbaar kan word” (2 Kor. 4:11). Hierdie lewe produseer in ons wonderbaarlike nuwe geestesvermoëns waardeur ons wat deur die Gees gebore word die koninkryk kan sien én derhalwe kan ingaan (Joh. 3:3&5). In Ef. 2:1-5 word dit mooi verduidelik: “En julle het Hy lewend gemaak, wat dood was deur die misdade en die sondes waarin julle tevore gewandel het … Maar God … het ons … ook toe ons dood was … lewend gemaak saam met Christus … en saam opgewek en saam laat sit in die hemele in Christus Jesus”! Sódoende plant God IN jou ‘n boom van die lewe (Spr. 11:30) waarin die boodskappers van die geestelike realm gemaklik tuis is.
Dr. Tom Gouws