Verduidelik wat die tradisionele kerke verstaan onder die begrip ‘uitverkiesing’.

 

BYBELBAAK 102

 

Die woordjie ‘uitverkiesing’ beteken: “To predetermine or foreordain; to appoint beforehand by an unchangeable purpose.” Uitverkiesing is ‘n fondasiesteen van die Protestantse dogma. Daarmee bedoel hulle dat alle mense gesondig het, en dat God derhalwe nét sekeres uitverkies om redding te kan ontvang, en dat Hy deur Sy soewereine keuse nét aan daardie mense geloof skenk om dan in Hom te glo. Nét hulle kan gered word, en die res het geen keuse as om vir ewig verlore te gaan en in die hel te brand nie. Die primêre Skrif wat voorgehou word, is Rom. 9:11, 15 & 18: “Want toe die kinders nog nie gebore was en nog geen goed of kwaad gedoen het nie dat die voorneme van God volgens die verkiesing kon bly staan, nie uit die werke nie, maar uit Hom wat roep … Ek sal barmhartig wees oor wie Ek barmhartig wil wees en My ontferm oor wie Ek My wil ontferm.” Hierdie Skrif word helaas doktrinies totaal misbruik en buite die konteks van die HELE Skrif (2 Tim. 3:16) gebruik. Dit is ‘n totaal vals lering en belaster die wesensaard van God. Jesus se aanbod in Joh. 6:37 is geldig vir ALLE mense: “Ek sal hom wat na My toe kom, nooit uitwerp nie.” In Hand. 2:21 proklameer Petrus: “Elkeen wat die Naam van die Here aanroep, sal gered word.” Hiermee word die Protestante se “onvoorwaardelike uitverkiesing” op sy kop gekeer. Daarmee saam – God is “geen aannemer van die persoon” (Hand. 10:34) nie, of soos die GNB dit stel: “God treats everyone on the same basis”. Die NET-vertaling spel dit dalk die duidelikste uit: “I now truly understand that God does not show favoritism in dealing with people.” Daar is iets soos uitverkiesing, maar dit het NIKS met redding te make nie. Tit. 2:11 stel dit onomwonde: “die reddende genade van God het aan ALLE mense verskyn”. Uitverkiesing is streng gesproke bloot van toepassing op die Bruid van Christus. Dit wat Hy aan sy dissipels gesê het in Joh. 15:16 is eweneens (volgens Joh. 17:20-21) óók op die wyer Bruid van Christus van toepassing: “Julle het My nie uitverkies nie, maar Ek het julle uitverkies en julle aangestel …” Baie is geroep, maar min is uitverkies (Matt. 22:14). Ook hierdie uitverkiesing het nié ons keuse overrule nie, want een van die uitverkorenes was selfs ‘n duiwel (Joh. 6:70)! Uitverkorenheid tot Christus vra allereers ‘n keuse om te sterf in die agenda van die self en die hoë roeping in Christus op te neem (Fil. 3:14). Dan is jy ook uitverkore volgens die “voorkennis” (1 Pet. 1:2) van God. Die openbaring van die Christus word net deur God gegee (Matt. 16:17), en ons word dienooreenkomstig “geroep … tot sy ewige heerlikheid in Christus” (1 Pet. 5:10). Alhoewel ons weet dié uitverkiesing is vanweë die voorkennis van God, is my en jou se profetiese ondersoeking, navorsing en naspeuring (1 Pet. 1:10-11) daarvan die voorvereiste vir die openbaring! Die koninkryk van God moet met geweld bestorm en gegryp word (Matt. 11:12). “Bid, en vir julle sal gegee word; soek, en julle sal vind; klop, en vir julle sal oopgemaak word. Want elkeen wat bid, ontvang; en hy wat soek, vind; en vir hom wat klop, sal oopgemaak word.” (Matt. 7:7-8). Redding is vir almal beskikbaar, maar uitverkiesing werk met diegene wat as “eerste vrugte” gekies is/het om in hul hoë roeping in Christus God se agenda gestalte te gee, en ‘n geestelike pad vir die ander oop te maak. Elkeen van hulle is ‘n uniek-eie, kunstig gemaakte (Ps. 139:15) woord in God se gedig. Die volheid van Wie Jesus is, het Hy uitgedeel in ‘n menigvuldige hoeveelheid “onvervangbare woorde” wat elkeen iets van Hom, die Hoof, openbaar, en aan Hom as sy Liggaam gestalte gee. Elke gepredestineerde deel van die Liggaam is uiteindelik nodig “om alles te doen wat u hand en u raad vooruit bepaal het om plaas te vind” (Hand. 4:28). Nét die Bruid is uitverkies voor die grondlegging van die wêreld (Ef. 1:4), maar sy moet kies en aanhou kies om die lewe van Christus in haar gestalte te laat kry (Joh. 5:40).

Dr. Tom Gouws