Waarom onderhou ons nie meer die wet nie? Jesus het tog gesê dat Hy nie gekom het om die wet te ontbind nie?

 

BYBELBAAK 69

Baie Sewendedag-adventiste, ook die Israelvisie, of fundamentalistiese gelowiges, of diegene wat die nuwe Judaïsme aanhang, haal 1 Joh. 2:6 aan om hulle navolging van die wet te regverdig: “Hy wat sê dat hy in Hom bly, behoort self ook so te wandel soos Hy gewandel het.” Dit word dikwels uit die oog verloor – Jesus het in sy lewe nog steeds in die ou verbond geleef. Die nuwe verbond het eers ‘n aanvang geneem ná die dood van Jesus. Daarom kon Jesus ook onomwonde sê in Matt. 5:17-18 – “Moenie dink dat Ek gekom het om die wet of die profete te ontbind nie. Ek het nie gekom om te ontbind nie, maar om te vervul. Want voorwaar Ek sê vir julle, voordat die hemel en die aarde verbygaan, sal nie een jota of een titteltjie van die wet ooit verbygaan …” Die woordjie wat hier die gedeelte in die regte perspektief stel, is die woordjie “vervul”, of dan in Grieks: “pleróō”. In die Grieks beteken die woord: “To fulfill, bring to a full end, accomplish, complete.” In sigself sal die wet vir altyd bly staan vir hulle met wie die wet gesluit is, omdat dit die sluitsteen van ‘n verbond is – daardie verbond is egter nié met Christene gesluit nie, maar met die volk Israel. Ex. 31:16-17 spel dit uit op wie die wet van toepassing is: “En die kinders van Israel moet die sabbat onderhou deur die sabbat te vier in hulle geslagte as ‘n ewige verbond. Tussen My en die kinders van Israel is dit vir ewig ‘n teken …” Derhalwe sal dit geldig bly vir die verbondsluiters totdat die kataklismiese gebeur – hemel en aarde tot niet gaan, by wyse van spreke. Jesus het nie gekom om die buitelyne van die beker opnuut betekenis te gee nie, maar om dit te vul met die ware substansie, die eintlike betekenis, Homself. Dit wat die wet voorhou is as ’t ware ‘n hol teëbeeld van die volheid wat net in Christus Jesus gevul kan word tot volheid (“plḗrōma”). Gal. 5:4 is ‘n ernstige waarskuwing vir elkeen wat in die nuwe verbond aan die Ou-Testamentiese wette wil vasklou: “Julle wat geregverdig wil wees deur die wet, is losgemaak van Christus; julle het van die genade verval.”

Dr. Tom Gouws