BYBELBAAK 98
Om na behore te verstaan, moet ons die onderskeid tussen ‘Jesus’ en ‘Christus’ eers verstaan. Jesus is die Seun van God, en volgens sy Naam in Hebreeus is Hy die Redder en Verlosser. Die woordjie ‘Christus’ beteken in Hebreeus ‘Messias’ en in Grieks ‘Gesalfde’. In Aramees word geprofeteer in Dan. 9:25 dat die (nuwe) Jerusalem, of die Bruid dan (Op. 21:2) “opgebou word tot op ‘n Gesalfde”. Jesus word vermeerder deur die Christus. Die Hoof, Jesus, het bykans tweeduisend jaar gelede sy opwagting gemaak. Sedert Pinkster (Hand. 2) is die Liggaam besig om gebore te word. Dit bly één Christus (Jesus, die Hoof, plus die res van die gesalfde Liggaam, die Bruid), soos Paulus dit so raak uitspel in Ef. 1:22-23 (Weymouth): “God has put all things under His feet, and has appointed Him universal and supreme Head of the Church, which is His Body, the completeness of Him who everywhere fills the universe with Himself.” Die Liggaam van Christus is die volledigheid van die Christus van God (Luk. 9:20). Tweeduisend jaar gelede was die openbaring van die Hoof daar (1Kor. 11:3; Ef. 1:10 & 22; 4:15; 5:23; Kol. 1:18; 2:20 & 19), maar die Liggaam van daardie Hoof het ontwikkel deur al die eeue totdat eendag “ons almal kom tot die eenheid van die geloof en van die kennis van die Seun van God, tot ‘n volwasse man, tot die mate van die volle grootte van Christus” (Efes. 4:13). Die Bruid is dus deel van die gesalfde Christus, met Jesus as Hoof! 1Kor. 12:12 spel dit besonder verhelderend uit: “Want net soos die liggaam een is en baie lede het, en al die lede van die een liggaam, al is hulle baie, een liggaam is, so ook Christus.” Wanneer daar dan gepraat word van ‘Jesus Christus’, dui dit op die Verlosser, die Hoof. Maar wanneer Paulus die uitdrukking ‘Christus Jesus’ gebruik, staan Christus voorop (dit word ‘n totaal van 71 keer gebruik, van Handelinge tot Openbaring). Jou identiteit in Christus is ‘n voorwaarde vir geestelike heelheid en voortspruitende geestelike volwassenheid en outoriteit. Onthou die raak beskrywing van John Eldridge in Waking the Dead: “Sin is a mistaken identity.” Hierdie identiteit in Christus is die sentrum van die nuwe mens waaruit jy nou leer leef – “die lewe van Christus (wat) in ons liggaam openbaar kan word” (2Kor. 4:10). Ons groei in die wete dat Op. 11:15 uitspel: “Die koninkryke van die wêreld (word) die eiendom van onse Here (Jesus) … en van sy Christus …”!
Dr. Tom Gouws