BYBELBAAK 13
In die Charismatiese eindtydleer duik die begrip “remnant” dikwels op. Daar is egter nie ‘n konsensus oor wat presies die term vir hulle beteken nie. Vir die meeste strominge verwys dit na die groepie wat met die hoop op die wegraping hulself teen die sogenaamde groot verdrukking voorberei om deur die drie-en-‘n-half jaar van die sogenaamde Antichris se heerskappy op aarde te kom en getrou bevind te word. Ander beskouings koppel dit spesifiek aan die Jode wat in daardie stadium tot geloof kom. Albei is onbybelse uitlegginge. Die woordjie “remnant” of “oorblyfsel” is ‘n vertaling van verskeie Hebreeuse woorde wat beteken: “what is left over”, “the rest”, of “residue”. Hierdie begrip dui op ‘n “a holy seed,” ‘n geestelike kern wat oorbly ná ‘n groot groepering wat dieselfde saad gedra het, nou dood is, weggevoer is, gesekulariseer of weggedwaal het. Hulle is ‘n aanduiding van die suiwer ideale rondom God se primêre agenda wat ten alle koste IN hulle bewaar word. Die eerste keer dat dié woord in die Bybel voorkom, is ‘n veelseggende definiëring van hoe dié begrip oorwegend in die Skrifte gebruik word, in Josef se woorde aan sy broers: “Maar God het my voor julle uit gestuur om vir julle ‘n oorblyfsel op die aarde te verseker en om julle in die lewe te hou tot ‘n groot verlossing.” (Gen. 45:7). In Jes. 7:3 lees ons dat die profeet Jesaja sy seun “Sjear Ja-sjub” moes noem, wat beteken: “the remnant shall return”. Hierdie belofte is deur die eeue te sien soos ‘n goue draad – deur die geskiedenisse van die Ou en die Nuwe Verbond, en die lewende handelingekerk se geskiedenis die laaste tweeduisend jaar. Die oorblyfsel is die klein groepering van gelowiges waarbinne God sy Goddelike saad gestort het, en wat hulle bewaar in die absolute hoop en geloof dat God se meesterplan deur die eeue onteenseglik besig is om tot volvoering te kom.
Dr. Tom Gouws