Wat beteken die woordjie ‘Maranáta’ in die Bybel?

 

BYBELBAAK 118

 

Alhoewel hierdie getranslitereerde Arameese woordjie nét ‘n enkele keer in die hele Bybel voorkom (in 1Kor. 16:22), is dit ‘n welbekende uitroep in veral die Pinkster- en Charismatiese groepe, en het dit veral bekend geword deur ‘n Radio Kansel-program met dié naam. Ons is tradisioneel wysgemaak dit is ‘n uitdrukking wat beteken: “Kom, Here Jesus!” Met die gebruik hiervan word ‘n dringende oproep gedoen vir die wederkoms van Jesus. Om hierdie rede word die voorlaaste vers in die Bybel ook gebruik as sou dit ‘n moontlike ‘Maranáta’ bevat: “Hy wat dit getuig, sê: Ja, Ek kom gou. Amen, ja kom, Here Jesus!” (Op. 22:20). MAAR, daar is geen sprake van hierdie woordjie in die hele boek Openbaring nie. Trouens, die woordjie wat hier twee keer gebruik word vir die woordjie “kom”, is die Griekse woord ‘erchomai’, wat geensins dui op ‘n wederkoms nie (terloops: ‘wederkoms’ kom ook glad nie in die oorspronklike tale op enige plek in die Bybel voor nie). In Jud. 1:14, byvoorbeeld, is die woord ‘erchomai’ duidelik verlede tyd: “Kyk, die Here het gekom!” Dit behoort dan makliker te wees om te verstaan dat ‘maranáta’ eintlik net in die verlede tyd en die hede gebruik kan word, nie in die toekomende tyd nie. Volgens die morfologie van die woord kan dit op een van twee wyses gespel word: “maran + atha”, wat beteken: ‘Ons Here het gekom!’ (verlede tyd); en as dit “marana + tha” gespel word, is dit: ‘Ons Here, kom!’ (teenswoordige tyd). Laasgenoemde dui op ‘plotselinge’ manifestasie, of ‘onmiddellike’ verskyning, wat ook in verband gebring word met die Griekse woordjie ‘parousia’, wat dui op ‘n verskyning/teenwoordigheid vandag. Daar is veel om te hersien in die sogenaamde eindtydleer van die kerk – die woordjie ‘maranáta’ is bepaald een daarvan. Nietemin – die saak het wye implikasies vir jou en my geloof. Maranáta!

Dr. Tom Gouws