BYBELBAAK 26
Paulus is hier taamlik moedeloos met die onverstandige gelowiges wat hulle maklik laat meevoer om gefassineer te word deur allerhande vals geestelike fopnuus en vals leringe. Van die kommentare verklaar die woord “bewitch” as “some kind of evil enchantment or fascination” of “that which is embodied in the popular superstition of the evil eye”. Hy praat hier spesifiek van Christene wat skielik teruggryp na Joodse gebruike, wette en doktrines, en hul lewens daarvolgens rig. Met hierdie vals hype word hulle “bewitch” en weggehou van die ware leer en suiwer evangelie. Kom dus weg van diegene wat jou laat voed op bangmaakstories op sosiale media, alarmistiese artikels, geheime verslae, openbaringe, bekendmakings van die gevaarlike toestande wat die wêreld bedreig, politieke onstuimighede, menslike intriges, komende krisisse van verbeelde proporsies, ekonomiese insinkings en die val van geldstelsels, samesweringsteorieë, uitwysings van antichriste, veral as dit te doen het met Israel en die Verenigde Nasies, politieke leiers en die pous, enige bespiegelinge oor die merk van die bees, 666, inplantasies en gevolglike beheer en breinspoeling, die stand van planete, bloedmane en stêrkonstellasies, tsoenami’s, die toename van oorloë of aardbewings of vure, boewery en georganiseerde misdaad, groeiende dwelmgebruik, die wegraping, die groot verdrukking, die skrikwekkende toename van terreur, die bedreiging wat Moslems inhou, en geheime Joodse organisasies, en Sataniste (veral die wat by Centurion se waterorrel byeenkom, as dit nog enigsins bestaan), geestelike sensasiesoekers wat voed op die dooier van vrees, geestelik gemaskerde mense wat as eindtydpredikers ‘n goeie lewe maak uit profetiese twak, wat menige gelowiges beheks. Paulus sê – “You poor and silly and thoughtless and unreflecting and senseless Galatians! Who has fascinated or bewitched or cast a spell over you …?” (Gal. 3:1, Amp). Jy ken ‘n boom aan sy vrugte – hierdie mense, soos Num. 13:32 sê: “they spread a negative report”! Job (24:13) sê: “Sulke mense behoort by die vyande van die lig: hulle ken nie die weë daarvan nie en bly nie op die paaie daarvan nie.” Elders stel Paulus dit ook sterk: “As iemand iets anders leer en nie instem met die gesonde woorde van onse Here Jesus Christus en met die leer wat volgens die godsaligheid is nie, dié is verwaand en verstaan niks nie, maar het ‘n sieklike sug na twisvrae en woordestryd waaruit ontstaan afguns, twis, lasteringe, bose agterdog, nuttelose stryery van mense wat verdorwe in hulle verstand en van die waarheid beroof is en dink dat die godsaligheid winsgewend is. Onttrek jou aan sulke mense.” (1Tim. 6:3-5). Laat elke ware seun van God wat wedergebore is uit die lewende hoop (1 Pet. 1:3) nét hierdie vrae antwoord – is daar enige LEWE in enigiets op die lysie hierbo? Laat die bestudering daarvan jou meer groei in jou identiteit in Christus, en in jou intimiteit met God? Help dit jou om die dinge daarbo te bedink? Beklee dit jou met Christus? Bring dit bevryding en waarheid in jou lewe tot stand? Verander dit jou na die beeld van God? Vul dit jou met Goddelike wysheid, geestelike insig en verstand, geregtigheid, vrede en vreugde in die Heilige Gees? Voeg dit ‘n aks by jou volle grootte in Christus, jou outoriteit? Weef dit jou mantel? Is dit waar, maar nie noodwendig die Waarheid nie? Jes. 52:2 – “Skud jou los uit die stof, staan op, sit neer, o Jerusalem! Maak los die bande aan jou hals, o gevangene, dogter van Sion!”
Dr. Tom Gouws