
BYBELBAAK 201
Deel 2. Noudat ons lewe en dood volgens Bybelse beginsels verstaan, kyk ons uit ‘n totaal ander perspektief na hierdie vraag. Veral oor die gedagte dat Abraham, Isak en Jakob meer as 4000 jaar terug fisies gesterf het maar volgens Jesus vandag nog lewe (Mat. 22:32). Jesus verduidelik hierdie stelling in Joh. 11:25-26: “wie in My glo, sal lewe al het hy ook gesterwe …Glo jy dit ?”
Die meerderheid van die Ou Testamentiese geloofshelde verskyn in Hebreërs 11 waar almal deur die geloof getuienis ontvang het. Hierdie getuienis is jou gehoorsaamheid en die maat waarin jy jouself as “losprys” vir God se agenda gee (1 Tim. 2:5-6). Al hierdie geloofshelde vorm deel van ‘n onsienlike realm, mense wat “lewend” is, genaamd die “Wolk van Getuies” rondom ons (Heb. 12:1). Hulle kon egter die “belofte” nie verkry nie (Heb. 11:13) omdat hulle “nie sonder ons volmaak sou word nie” (Heb. 11:40). Handelinge 2:33 verduidelik dat hierdie belofte die Gees van God in ons is. Ons in Christus is deelgenote van ‘n nuwe testament vir die wat geroepe is om die belofte van die ewige erfenis te ontvang (Heb. 9:14-15). Deur die opstanding van Jesus Christus uit die dode het ons
wedergeboorte as geskenk ontvang tot ‘n lewende hoop (1Pet. 1:3) sodat die Gees in ons woning kan maak (Joh. 14:23). Nou in die Nuwe Testament, het “die geeste van die volmaakte regverdiges” saam met ons die belofte van die Gees ontvang en het ons gekom by die berg Sion en die stad van die lewende God, die hemelse Jerusalem (Heb. 12:22-23).
Die vraag oor waar mense is wat die Gees van God “as iets blywends” in hulle het wanneer hulle fisies sterf, word geopenbaar in die gedeelte in Joh. 17. Jesus se heerlikheid het herstel met die heerlikheid wat Hy by God gehad het (Joh. 17:5) deurdat Hy as die Woord (Joh. 1:1) Homself aan ons gegee het (Joh. 17:8). Ons is dus weer verenig in die liggaam van Christus en elkeen afsonderlik lede van mekaar (Rom. 12:5) en daarom sal ons in heerlikheid herstel word met die heerlikheid wat ons by die Vader gehad het; “dat almal een mag wees net soos U, Vader, in My en Ek in U; dat hulle ook in Ons een mag wees, sodat die wêreld kan glo dat U My gestuur het.” (Joh. 17:21).
Daniël Gouws / Marina Rheeders
New Earth Ministry 0741914747