BYBELBAAK 25
Vas is die doelbewuste besluit om vir ‘n bepaalde tydperk ter wille van ‘n geestelike motivering of rede jou te weerhou van kos en drinkgoed. Soms behels dit ‘n onthouding van iets wat jy as belangrik ag, bv. seksuele gemeenskap (1 Kor. 7:5), of tv-kyk, of dergelike dinge. Soms vas mense deur selektiewe keuses te maak, bv. die sg. Daniëlsvas waar net vrugte en groente geëet word. In Bybelse tye het mense om verskillende redes gevas, as gevolg van berou oor sondes (1 Sam. 7:6), om God se leiding te soek (Rigt. 20:26-28), as deel van geestelike toewyding (Luk. 2:36-37), om sekere demone uit te dryf (Matt. 17:21), om leiers/gestuurdes aan God toe te wy (Hand. 14:23), om vir hulp te pleit in tye van nood (Esra 8:21-23), om groter openbaring van God te soek (Dan. 9:2-3), om uit te vind wat is verkeerd (Jos. 7:6), en so meer. Die hoofdoel van vas is om jouself te voorootmoedig voor God en sy wil te soek. Dit is ‘n geestelike aksie wat jou stem in die hoogte laat hoor (Jes. 58:4). Dis ‘n privaat aangeleentheid sonder vertoon en hoogmoedigheid en eiegeregtigheid (Matt. 6:16; Luk. 18:12-14). Vas is GEEN manier om God te manipuleer nie (Jer. 14:12). Gehoorsaamheid en diensbaarheid is vir Hom steeds van veel groter belangrikheid as om te vas (Jes. 58:5-11). Moses, Elia en Jesus het 40 dae lank gevas, en só ‘n diep commitment kan net deur God gesanksioneer word as deel van ‘n voorbereiding vir ‘n spesifieke groot roeping. Ons moet deurgaans onthou dat die koninkryk behels nie spys en drank, of die onthouding daarvan, nie (Rom. 14:17) – dat elke mens eet en drink en die goeie met ‘n dankbare hart geniet, dít is bepaald ‘n genadegawe van God (Pred. 3:13)! Dus – “Gaan dan heen, eet jou brood met vreugde, en drink jou wyn met ‘n vrolike hart, want God het lankal behae in jou werke.” (Pred. 9:7). Indien dinge nié wel gaan nie, is vas ‘n manier om lig te laat deurbreek en genesing te laat uitspruit. God vra nooit van ons onsinnige dinge wat jou lewe en gesondheid kan bedreig, of godsdienstige reseppies nie. Met ‘n besluit om te vas moet jy absoluut nie vir jouself lieg oor die ware motief van jou hart nie.
Dr. Tom Gouws