Wat is die grootste beswaar teen die ZCC as ‘n geloofsgroepering?

 

BYBELBAAK 47

Die Zion Christian Church is baie bekend in Suid-Afrika as gevolg van hul lede se sterkenteken wat deurgaans op die bors gedra word, en veral hul jaarlikse pelgrimstog na Moria naby Polokwane. Jy sien hul dikwels by fonteine, riviermonde en ‘heilige’ plekke waar hul waters haal wat ritualisties as heilige waters gedrink en gebruik word. Die ZCC is een van die baie, maar bepaald die grootste en invloedrykste geloofsgroeperinge wat hul navolgers inlei in die Christelike godsdiens, maar wat dit dan koppel aan animistiese tradisies. Animisme kan geklassifiseer word as ‘n primitiewe geloofskultuur waar geglo word dat alles om jou ‘n siel het. Voorvaders en heilige objekte het die reg tot inspraak in die wêreld van die lewendes. Die opkoms van Afrika-nasionalisme is ten nouste gekoppel met die Christelike geloof, maar nuutgekerstende Christene moes egter hul geloof integreer met hul kultuuroorleweringe en geloofstradisies en dit het meegebring dat hul aanbidding meermale sinkretisties geword het, met ander woorde ‘n vermenging van basiese Christelike oortuigings en animistiese praktyke, soos voorvaderaanbidding. Oor die ZCC se leier, Biskop Lekganyane, is indertyd voor die WVK getuig: “He realized that unless Christianity was interpreted in a context suitable to the African lifestyle, cultural and political development, Africans would in due course find themselves as a nation alienated from its roots, rich history and religious foundation.” Hierdie versnyding of verontreiniging deur vermenging (Lev. 18:23-24), is vir God onaanvaarbaar, want dit is offerdiens aan vreemde gode, wat Hom terg (Jer. 44:8). Op verskeie plekke in die Woord word die gelowige streng gewaarsku om nie enige kontak met die geeste van afgestorwenes te hê nie (Lev. 19:31; 20:6; Jes. 8:19). Saul het sy koningskap en lewe verloor as gevolg van hierdie praktyk: “En Saul het gesterwe weens ontrou wat hy teen die HERE begaan het, weens die woord van die HERE wat hy nie gehou het nie; en ook omdat hy die gees van ‘n afgestorwene om inligting gevra het,  maar die HERE nie geraadpleeg het nie.” (1 Kron. 10:13). Jes 19:3 (KJV) noem die geeste “familiar spirits” wat waarsê, met ander woorde in der waarheid ‘n spreekbuis word van die Bose Een. En inderdaad dan: “watter gemeenskap het die lig met die duisternis? En watter ooreenstemming het Christus met Bélial, of watter aandeel het die gelowige met die ongelowige? Of watter ooreenkoms het die tempel van God met die afgode?” (2 Kor. 6:14-16). In Jes. 8:19 word die antwoord op die vraag kort en kragtig gebied: “moet ‘n volk nie sy God raadpleeg nie; moet vir die lewendes die dooies gevra word?” Die ZCC se klem op voorvaderaanbidding, die rol van watergeeste in hul bediening, en die verafgoding van hul leier, is die grootste besware wat teen die geloofsgroepering ingebring kan word.

Dr. Tom Gouws