BYBELBAAK 18
Die begrip ‘sonde teen die Heilige Gees’ kom nie in die Bybel voor nie. Daar is wel ‘n verwysing na “lastering teen die Gees” wat nie vergewe kan word nie (Matt. 12:31-32). Uit die konteks van dié gedeelte uit drie evangelies en elders kan dit as drie moontlikhede opgesom word: (1) ‘n hardnekkige verwerping van die Gees van God deur volgehoue ongehoorsaamheid en die verharding van jou hart as jy Sy stem hoor (Ef. 4:18, Heb. 3:15 en 4:7), (2) deur die werkinge van die Heilige Gees demonies te noem en dit te belaster, en (3) om ná jy gedoop is met die Heilige Gees, verligte oë van die verstand gekry het en jy jou rhemawoord, jou identiteit in Christus, gesmaak het, dit te verwerp en te kies om eiesinnig jou lewe te lei (Heb. 6:4-6). Almal struikel soms, of is soms ongehoorsaam, of backslide selfs – ons moet onthou Jesus het desnieteenstaande tog medelye met ons swakhede (Heb. 4:15) – “Hy weet goed hoe ons gevorm is, gedagtig dat ons stof is.” (Ps. 103:14). Daar is volgens 1 Joh. 5:16 wél sonde wat tot die dood lei, maar dit gaan oor gelowiges wat hul merk of skeppingsdoel mis, vir wie alles onder die son dan – soos vir die ongehoorsame en ontnugterde Prediker (1:2) – álles dan tevergeefs is. Slotsom: as jy gekweld is daaroor is of jy wel die Heilige Gees belaster het, hou onmiddellik op om bekommerd daaroor te wees, want as jy wél dit gedoen het, sou jy nie enigsins ooit eens daaroor gedink het nie! Daarbenewens – al het ons dalk in die verlede bewustelik óf onwetend gelaster, soos Paulus (1 Tim. 1:13) ook, het God ons soos brandhout uit die vuur geruk (Sag. 3:2). By God is alle dinge en vergifnis moontlik (Mark. 10:27) – en kan ons dus met vrymoedigheid sê: “Daar is dan nou GEEN veroordeling vir die wat in Christus Jesus is nie.” (Rom. 8:1). Jesus het nié na die aarde gekom om die wêreld te veroordeel nie, maar dat die wêreld deur Hom gered kan word (Joh. 3:17).
Dr. Tom Gouws