BYBELBAAK 72
Die woordjie ‘hel’ kom NIE EEN KEER in die Ou Testament (1933/53-vertaling) voor nie! Hoekom word hierdie belangrike onderwerp geensins genoem in die Ou Verbond nie? Dit was glad nie deel van die Joodse denkraamwerk nie. As jy dan nou na die wyd-gerespekteerde King James Version gaan kyk, kom die woordjie “hel” wel 31 keer in dié vertaling se Ou Testament voor, terwyl ‘n naspeur in die gesaghebbende American Standard Version-vertaling weer eens GEEN verwysing na “hel” het nie, ook nie die Amplified Version, en 10 ander Bybels wat klassiek en konteksgetrou is, sterk dogmavry, en veral aanspraak maak daarop om die Joodse denk- en geloofswêreldbeeld streng te verreken. Die hel ontbreek in die Ou Testament! As dit dan wel in die Nuwe Testament voorkom, word dit byvoorbeeld in die 1933/53-vertaling slegs tien keer gebruik. ‘n Mens begin dan wonder oor die geweldige mitologisering wat hierdie klein woordjie meegemaak het. Veral as in vier gevalle (Matt. 5:29-30; Mark. 9:43 & 45) dit dieselfde Skrif is wat oor die “struikeling” van die hand of die oog handel (wat duidelik simbolies is) en in twee volgende gevalle óók duidelik simbolies is: as Jak. 3:6 sê die tong word uit die hel aangesteek, asook Matt. 23:15 wat praat – duidelik by wyse van spreke – van “‘n kind van die hel”. Met minder as vier moontlike legitieme verwysings na hel in die totale Bybel, noop dit mens om die betekenisgebruik van hierdie woordjie in Grieks te gaan naspeur. Die eenvoudige rede waarom al bogenoemde vertalings nie die woordjie “hel” gebruik nie, is omdat dit ‘n Angel-Saksiese woord is en nie in Hebreeus of Grieks bestaan nie. In Adam Clarke’s Commentary on the Bible wys dié teoloog uit die Engelse woordjie ‘hel’ het verkeerdelik in ons Bybels ingesluip. Die oorspronklike woorde in die Bybel wat in sommige twyfelagtige vertalings as “hel” vertaal is, is die Hebreeuse Sheol, in die Ou Testament; die ekwivalente woord in Grieks daarvoor: Hades, in die Septuagint; en in die Nuwe Testament: Hades, Gehenna en Tartarus. Maar hulle beteken iets totaal anders as wat ons kultureel en godsdienstig onder die woordjie ‘hel’ verstaan.
Dr. Tom Gouws