Wat is die verskil tussen siel en gees?

BYBELBAAK 32

Ons moet allereers onderskei tussen die natuurlike mens en die geestelike mens (1 Kor. 2:14-15), wat ALBEI in die gelowige gesetel is. Die geestelike mens het ‘n gees, siel en liggaam, en die natuurlike mens het ‘n gees, siel en liggaam. Die natuurlike mens se gees is die vermoë om asem te haal en te lewe; die siel is die wil, intellek, emosies en ander fasette van menslike karakter, persoonlikheid, talente, en so meer; die liggaam is sy vleispaleis. As die natuurlike mens sterf, of die gees gee (Matt. 27:50), gebeur wat Pred. 12:7 uitspel, naamlik dat “die stof na die aarde terugkeer soos dit gewees het, en die gees na God terugkeer wat dit gegee het”. Daarmee saam sal die natuurlike siel ook tot niet gaan. Daar bestaan nie iets soos ‘n ewige siel van ‘n individu nie (Eseg. 18:20; Jona 4:3). Met die skepping van Adam het God die mens na Sý beeld en gelykenis gemaak. Omdat God Gees is (Joh. 4:24), was die eerste mens dus oorspronklik in wese ‘n geesmens, met ‘n lewende siel (Gen. 2:7) en ‘n geestelike liggaam, wat geensins die dood of siekte deelagtig was nie. Die gees van die geestelike mens is die vermoë om met God gemeenskap te kan hê; hierdie siel is ‘n kollektiewe verbintenis met die Liggaam, ook genoem “the mind of Christ” (1 Cor. 2:16), as ‘t ware die sielsdimensievermoë in ‘n kollektiewe geestelike Liggaam, wat ook ‘verheerlikte liggaam genoem word, en in die Nuwe Testament bekend staan as ‘die Liggaam van Christus’. Alle diere, soos alle natuurlike mense, het die asem/gees van die natuurlike lewe (Gen. 1:30), anders sou hul nie kon asemhaal en leef nie. Dus is alle lewende diere ook lewende siele! Besef dan nou –  die natuurlike mens het ‘n natuurlike, tydelike liggaam, ‘n lewende siel én ‘n lewende gees. Hierdie natuurlike gees laat hom, soos die diere, bloot bestaan, dit is nie volgens die vorige definisie van die geestelike mens se gees die vermoë om met God gemeenskap te hê nie. Met die sondeval het Adam, en gevolglik die mensdom, se geestelike mens gesterf, alhoewel Adam se natuurlike mens veel later eers gesterf het toe hy 930 jaar oud was (Gen. 5:5). Niks kan derhalwe enige vleeslike mens, wat “uit die aarde aards” (1 Kor. 15:47) is, vul met die attribute van geestelike lewe, met onsterflikheid, of onverganklikheid, nie, behalwe wedergeboorte. Dit is hoekom Jesus vir Nikodémus in Joh. 3:3 en 5 verduidelik dat géén onwedergebore mens die koninkryk van God eens kan sien, of ingaan, nie, “except a man be born again” (IAV). Jesus stel dit op ‘n interessante wyse – “as iemand nie gebore word uit water en Gees nie, kan hy in die koninkryk van God nie ingaan nie”. Hy gebruik nie die woordjie mag nie, hy KAN nie! Dit is streng gesproke onmoontlik dat die natuurlike mens die geestelike realm kan ingaan! Daar is geen toegang van die laer realm na die hoër realm nie, behalwe om “van bo” gebore te word – sodoene kry die geestelike mens beslag. Daarom sê Paulus in 2 Kor. 4:16: “Al vergaan ons uiterlike mens ook, nogtans word die innerlike mens dag ná dag vernuwe.”

Dr. Tom Gouws