Wat is die wolk van getuies?

 

BYBELBAAK 157

 

Jesus was ná sy sterwe opgeneem in die geestelike realm, ook genoem die boesem van Abraham / paradys / tuin van Eden, of dan, soos ons dit noem, die derde dimensie. Dáár is ook die “geeste van die volmaakte regverdiges” (Heb. 12:23), nes ook in die tuin van Eden indertyd in Génesis 2:9 & 16), as bome gemetaforiseer (Eseg. 31:9). Jesus, en elkeen wat in Christus gesterf het (ook dié in die Ou Testament – Heb. 11:26), is in hierdie onsienlike realm, behalwe as God toelaat dat die geestelike oë oopgemaak word sodat jy dit soms kan sien. Die term wat dit alles omvat, is ‘die wolk van getuies’ (Heb. 12:1). Soos Jesus dié latere staat van transisie wat Hy na sy dood sou inneem, op die berg van verheerliking gedemonstreer het, is Hy deur ‘n wolk “oorskadu” (Matt. 17:5, ASV). Dieselfde gebeurtenis, uit die oogpunt van Luk. 9:34-35 (ASV), waar dit soos volg beskryf word: “here came a cloud, and overshadowed them: and they feared as they entered into the cloud. And a voice came out of the cloud, saying, This is my Son, my chosen: hear ye him.” God was onteenseglik in die wolk, soos Jes. 19:1 (DRB) uitwys: “the Lord will ascend upon a swift cloud”. Dis uiteraard geen fisiese wolk nie. Mark. 9:8 (ASV), wat ook ‘n weergawe bied van die verheerliking op die berg, wys uit dat almal in die geselskap, lewend (soos Jesus en die drie dissipels) én fisies nie-lewend (soos Moses en Elia) prototipies deur die wolk “oordek” kan word, meer korrek: deel van die wolk van getuies kan word: “And suddenly looking round about, they saw no one any more, save Jesus only with themselves.” Jesusis ná sy sterwe aan die kruis duidelik opgeneem in hierdie groot “wolk van getuies”. Letterlik en figuurlik is Jesus versamel by die vaders wat Hom vooruitgegaan het (Rigt. 2:10; 2Kon 22:20), dié wat lewend ‘n transisie beleef het (Henog en Elia), én die wat gesterf het (soos Moses en Elisa), in “sy ligtende wolk” (Job 37:11). Soos in die woestyn, was “die heerlikheid van die HERE in die wolk” (Eks. 16:10); soos in die tabernakel en die ark van die getuienis, sê Hy nou ook: “Ek verskyn in die wolk” (Lev. 16:2); soos Moses gebid het in Num. 14:14: “Hulle het gehoor dat U, HERE, in die midde van hierdie volk is; dat U, HERE, duidelik waarneembaar verskyn; dat u wolk oor hulle staan en U in ‘n wolkkolom voor hulle uit trek bedags en in ‘n vuurkolom by nag.” Weliswaar – “Wolke is ‘n bedekking vir Hom” (Job 22:14). Ps. 104:3 stel dit onomwonde: “die wolke (is) sy wa”! Al steek Hy Hom daarin weg, verduidelik Klaagl. 3:44: “U het Uself in ‘n wolk gehul”. Job het veel van die wolk van getuies verstaan. In hoofstuk 38 en vers 36 maak hy in ‘n retoriese vraag hierdie gelykstelling: “Wie het wysheid neergelê in die wolke?” Ons weet volgens 1Kor. 1:24 dat Christus is die wysheid van God, dus word die Christus ook “neergelê” of gevestig in die wolk van getuienis! Ook Dawid het veel van die wolk van getuies verstaan – in Ps. 68:34 praat hy van God se “sterkte in die wolke”. Eweneens weet ons uit 1Kor. 1:24 dat Christus is die sterkte of krag van God, dus word die Christus neergelê of gevestig in die wolk van getuienis! Hoe allerheerlik word dit dan nie profeties uitgespel in Jes. 4:5 nie – “die HERE (skep) oor elke woonplek van die berg Sion en oor sy plekke van samekoms ‘n wolk bedags en rook met die glans van vuurvlamme in die nag; want oor alles wat heerlik is, sal daar ‘n beskutting wees.” Sion is die geestelike woonplek van die Bruid, nóg ‘n naam van die boesem van Abraham, paradys, tuin van Eden, derde hemel of dimensie, of dan: wolk van getuienis! Dis duidelik nie ‘n fisiese ruimte nie, hoogstens ‘n bewussynstaat, ‘n geestelike posisie in Christus, “die huis van my Vader (met die) baie wonings” (Joh. 14:2), wat verseker nie die hemel is nie (Joh. 14:23; 2Kor. 5:2)! As die profeet Esegiël (1:4) ‘n visioen van die prototipiese Bruid sien, is sy onteenseglik in wolke verhul: “Toe het ek gekyk—en daar het ‘n stormwind uit die noorde gekom, ‘n groot wolk met onophoudelike vuur …” Ook in die profeet Daniël (7:13) se naggesigte het hy die herrese Jesus die Christus só beskryf: “met die wolke van die hemel het Een gekom soos die Seun van ‘n mens, en Hy het gekom tot by die Oue van dae, en hulle het Hom nader gebring voor Hom.” Die “hulle” vereis meer as net “die Seun van die mens”, duidelik die ander “bewoners” van die wolk ook! Dus, soos Op. 1:7 sê: “Kyk, Hy kom MET die wolke.” In hierdie lig is dit ook des te meer duidelik dat 1Thes. 4:17 bv. nie dui op ‘n wegraping nie, maar ‘n eenword/”translation” tot die derde dimensie: “Daarna sal ons wat in die lewe oorbly, saam met hulle in wolke weggevoer word die Here tegemoet in die lug; en so sal ons altyd by die Here wees.” Om hierdie rede kon Jesus ná die kruisiging, tot en met sy hemelvaart, aan verskeie mense verskyn – Hand. 1:3 spel dit uit: “ná sy lyde, (het Hy) Hom lewend vertoon”. Die New Century Version stel dit mooi: “After his death, he showed himself to them and proved in many ways that he was alive.” Hy was nie heeltyd vir almal sigbaar nie, soos die verhaal van die Émmaüsgangers uitspel: “hulle oë is weerhou, sodat hulle Hom nie kon herken nie” (Luk. 24:16). Later, in vers 31, word berig: “Toe is hulle oë geopen en hulle het Hom herken, en Hy het uit hulle gesig verdwyn.” Die wolk van getuies moedig my en jou – soos vir hulle – aan om ons skeppingsdoel te vervul, want hulle kan korporatief nie hulle erfdeel, of volmaaktheid (Heb. 11:40), ontvang sonder dat ek en jy ons skeppingsdoel vervul het nie. Hierdie beskouing van die wesensaard van die wolk van getuies behoort ons beskouing van lewe na die dood dramaties te verander.

Dr. Tom Gouws