BYBELBAAK 11
Geestelike oorlogvoering is ‘n konsep wat veral in die Pinkster- en Charismatiese kerke as ‘n sambreelterm gebruik word vir verskeie aktiwiteite waarmee gelowiges stelling inneem teenoor die duiwel, demone en geestelike prinspaliteite en wesens. Dit sluit aksies in soos proklamasie, die binding en ontbinding van geeste, die skoonmaak van ruimtes, die salf van objekte of plekke, die blaas van shofars, die aanspreek van siektes/probleme/situasies waarin ‘n konfronterende posisie ingeneem word teenoor die bose magte, bid in vreemde tale, dans, profetiese aksies, die gebruik van nagmaal, gebedsreise, intersessie, lofprysing, die inbid van sake, die weiering van gebeurlikhede, die pleiting van die bloed van Jesus oor mense, gebiede en omstandighede, “spiritual mapping”, vas, en so meer, alles wat nodig geag word om oorwinning oor die Bose te verkry. Baie van hierdie praktyke mag miskien op sigself legitieme aksies deur welmenende gelowiges wees, maar baie daarvan is helaas nie Bybelgefundeer nie en maak selfs die deelnemers daaraan oop vir demoniese aktiwiteit (Hand. 19:16). Die wêreld is bepaald onder beheer van die duiwel en sy magte (1 Joh. 5:17), maar gelowiges word aangesê om GEEN plek aan die duiwel te gee nie (Ef. 4:27), aangesien hy by die kruis van al sy magte gestroop is (Kol. 2:15), en Christene nie geroep is om heeltyd in ‘n geestelike oorlog te wees nie, want profeties is daar vir die nuwe verbond onteenseglik geproklameer: “Her warfare is ended.” (Isa. 40:2). Voortdurende geestelike oorlogvoering voed die slang met vleeslikheid (= stof), en dan word die slang ‘n draak (Op. 12:9), ‘n verbeelde dier wat alles eis en nimmer vind versadiging.
Dr. Tom Gouws