BYBELBAAK 14
Die gees van waarsêery is deel van die familiêre gees, ‘n counterfeit van die Heilige Gees. Dis die vals heilige gees waarvan Jesus tipologies van ontslae wou raak deur die duiweverkopers uit die tempel te jaag (Mat. 21:12). Die Skrif noem enkele praktyke wat dié gees van waarsêery toegang gee tot mense, bv toekomsvoorspel deur hemelliggame. Jes. 47:13-14 waarsku eksplisiet teen enige wyse van toekomsvoorspelling, veral deur gebruik te maak van astrologie: “Jy het jou vermoei met die menigte van jou planne; laat hulle tog optree en jou red—die wat die hemel indeel, die sterrekykers wat elke maand laat weet wat oor jou sal kom. Kyk, hulle het geword soos stoppels, vuur het hulle verbrand; hulle kan hulself nie red uit die mag van die vlam nie—dit is geen kool om by warm te word nie, geen vuur om daarvoor te sit nie!” Baie Christelike profete maak hul skuldig hieraan, byvoorbeeld die eietydse hype oor die bloedmane. Dit beteken nie dat as jy in ‘n tydskrif gelees het wat die sterre voorspel het jy noodwendig hierdie gees ontvang het nie – onthou, dit gaan oor voortdurende blootstelling en gepaardgaande geloof in die lotsbepaling van die hemelliggame en geloof daarin. Die terloopse blootstelling hieraan is egter nie noodwendig demonies nie. Wees egter wel bedag daarop dat baie van die boeke en materiaal daarop ingestel is om jou te wen vir die astrologie. En uiteraard sal daar aspekte wees wat grootliks waar is oor jou lewe, of jou sal interesseer. (Daar is ‘n groot verskil tussen astrologie en astronomie. Eg. gebruik die sterre en ander hemelliggame om die toekoms te voorspel. Lg. is die wetenskap ten grondslag van hemelliggame, en daar is geen demoniese assosiasie daarmee nie.) Ware profesie voorspel nie die toekoms nie. En voorts: alle profesie wat jou keuse wegneem, is waarsêery. Joh 16:13 bly ons enigste bron rondom die toekoms: “Maar wanneer Hy gekom het, die Gees van die waarheid, sal Hy julle in die hele waarheid lei; want Hy sal nie uit Homself spreek nie, maar alles wat Hy hoor, sal Hy spreek en die toekomstige dinge aan julle verkondig.”
Dr. Tom Gouws