Wat is ‘n genadegawe van geloof (1 Kor. 12:9) en wat is die praktiese werking daarvan?

BYBELBAAK 23

Die derde genadegawe, die gawe van geloof, word dikwels misverstaan. Dit het niks met die fondasie van geloof in God te doen nie (Heb. 6:2). Die meeste Gereformeerde teoloë verklaar derhalwe hierdie gawe verkeerdelik as sou dit te doen hê met die geloof wat nodig is om in God te kan glo. Dis nie Skriftuurlik nie. Benewens die geloof waardeur jy gered word (Ef. 2:8), wat ‘n voorvereiste vir redding is, is geloof in die feit dat God ‘n beloner is van die wat Hom soek, essensieel in alle geestelike funksionering. Heb. 11:6 stel dit só: “As ‘n mens nie glo nie, is dit onmoontlik om te doen wat God wil. Wie tot God nader, moet glo dat Hy bestaan en dat Hy dié wat Hom soek, beloon.” As jy in ‘n situasie is waar God jou iets sê oor wat vir jou onmoontlik lyk, en jy het nie die geloof om dáárvoor te vra nie, kan jy wel vra vir die genadegawe van geloof. Hierdie gawe word dan vir die tyd wat dit nodig is aan jou gegee sodat jy in geloof kan staan rondom hierdie saak. ‘n Mooi voorbeeld waar hierdie genadegawe gedemonstreer word, is in Mark. 9:17-30, waar hulle ‘n seun met ‘n stom gees na Jesus gebring het. Van sy kinderdae af het hierdie gees die seun selfs in die vuur en in die water gegooi om hom te probeer doodmaak. Jesus se dissipels kon hom nie uitdryf nie en Hy spreek sy dissipels soos volg aan: “o Ongelowige geslag ….” Hierdie is ‘n kernaspek van die funksionering in geestelike gawes: JY MOET GLO. Elke genadegawe moet met geloof verenig word (Heb. 4:2) alvorens dit manifesteer. Jesus sê vir hulle in vers 23: “as jy kan glo, alle dinge is moontlik vir die een wat glo”. Soms dan, in die situasie, oorweldig ongeloof jou, en dán bid jy en vra vir ‘n genadegawe van geloof. Nadat Jesus aan die pa en aan sy dissipels hierdie baie belangrike sleutel vir die uitoefening van geestelike gawes gegee het, sodat Hy hulle kan leer dat die geestelike realm slegs in werking kom deur geloof, “roep die vader van die kind met trane uit en sê: Ek glo, Here, kom my ongeloof  te hulp!” (vers 24). Hierdie is ‘n demonstrasie van iemand wie se geloof hom in die steek laat op ‘n kritiese oomblik en dan – vir hierdie bonatuurlike gebeurtenis om te kan realiseer – vra hy vir ‘n genadegawe van geloof om sodoende die wonderwerk te kan laat plaasvind. Heb. 4:16 – ″Laat ons dan met vrymoedigheid na die troon van die genade gaan, sodat ons barmhartigheid kan verkry en genade vind om op die regte tyd gehelp te word.”

Dr. Tom Gouws