Wat presies beteken die woordjie ‘amen’ waarmee gebede afgesluit word

 

BYBELBAAK 129

 

Die woordjie ‘amen’ word meestal amper onnadenkend gebruik. In die geloofstradisie het ons geleer dat ‘n ‘Amen’ bloot ‘n bevestiging is dat jy saamstem met die een wat die getuienis lewer, of die een wat lering bring, of as akkoord van waarheid wat gespreek word. Maar binne hierdie verstaan is Amen nie net ‘n woordjie wat ook veral byvoorbeeld aan die einde van ‘n gebed gebid word nie; dit is na regte eerder ‘n herinnering of endossement van die feit dat God in Jesus Christus sy woord bevestig met sy Wesensaard. Min gelowiges weet dat Amen een van die name van Jesus is. In Op. 3:14 staan: “Dít sê die Amen, die getroue en waaragtige Getuie, die begin van die skepping van God …” Trouens, die woordjie ‘amen’ het sy oorsprong in Jesus, die Oorsprong se Naam. In 2Kor. 1:20 spel Paulus hierdie waarheid uit: “Want hoeveel beloftes van God daar ook mag wees, in Hom is hulle ja en in Hom amen, tot heerlikheid van God deur ons.” Die Ancient Hebrew Lexicon Bible beskryf die woordjie ‘amen’ in piktorale taal interessant genoeg as “blood continues”. Die grondslagwoord van ‘amen’ is ‘’âman’, en hierdie Hebreeuse woordjie beteken “to build up or support; to foster as a parent or nurse … to go to the right hand”. God is ‘n ‘cherising, nurturing, tending’ Vader, en hierdie spesifieke Karakteraard het Hy volledig in Jesus, die Amen, vergestalt. Figuurlik vloei die Geesbloed van God in Jesus die Amen – Hy dupliseer en bevestig presies hierdie Karakteraard in sy nageslag deur die toegespitste sorg wat Hy bied. Sodoende verseker Hy verseker dat die “blood continues”. Al verskil is nou dat die bloed wat as ’t ware voortgeplant word in geestelike seuns nié die gekontamineerde bloed van die mens en die oordraagbare verganklikheid van die ondermaanse is nie, maar in werklikheid die lig van die lewe. Met die uitspreek van die woordjie ‘amen’ maak ons ons ook dan telkens vas aan die belofte van God dat Hy alle dinge deur Christus met Hom sal versoen. Amen is die sluitsteen van ons hoop daartoe. Met dit as agtergrond kan ons voortaan met groter oortuiging en nadruk Amen sê!

Dr. Tom Gouws