BYBELBAAK 37
Paulus noem in Ef. 5:32 hierdie geestelike wetmatigheid tussen ‘n man en ‘n vrou ‘n groot verborgenheid. Die verborgenheid is spesifiek dat “hulle twee sal een vlees word”. Jesus benadruk dit ook: “Het julle nie gelees dat Hy wat hulle gemaak het, hulle van die begin af man en vrou gemaak het nie, en gesê het: Om hierdie rede sal die man sy vader en sy moeder verlaat en sy vrou aankleef, en hulle twee sal een vlees wees; sodat hulle nie meer twee is nie, maar een vlees? Wat God dan saamgevoeg het, mag geen mens skei nie.” (Matt. 19:4-6). Hierdie een vlees is egter ook moontlik met iemand anders as jou wettige man/vrou: “Of weet julle nie dat hy wat ‘n hoer aanhang, met haar een liggaam is nie? Want die twee, sê Hy, sal een vlees wees.” (1 Kor. 6:16-17). Die uitspraak van Jesus hierbo is ‘n baie sterk stelling met geweldige implikasies – skei dui nie noodwendig net op die regbetekenis van die term nie. Uit ‘n geestelike oogpunt, maar eintlik ook ‘n fisiese oogpunt, kan twee dinge wat deur God ge-join is GEENSINS, NOOIT, geskei word nie. Dit beteken dat daar byvoorbeeld in hierdie geval, waar God die huwelikpersone aanmekaar gegom het, daar geen verbreking KAN plaasvind nie, selfs as die mense van mekaar wegbeweeg. ‘n Analogie van ‘n ‘water’-huwelik kan help om dit beter te verstaan – as die waterstof (man) en die suurstof (vrou) byvoorbeeld skei, kan die verborgenheid van hulle eenheid as water nie in die oorspronklike gasse opgebreek word nie. Die ineengestrengeldheid (entanglement) van die huwelik is deur God ontwerp met Mal. 2:15 voorop: “Hy het ‘n (na)geslag van God gesoek.” Die onherroepelike een-heid van man-en-vrou determineer absoluut die nageslag, en is verantwoordelik vir die ewige erfenis van daardie nageslag. Die kwantumfisika het ons geleer dat die kleinste partikels entangle word tot so ‘n mate dat dit effektiewelik twee dele van dieselfde entiteit maak. Hierdie twee partikels deel nou ná vereniging ‘n gesamentlike ander identiteit, wat onherroepelik is. Interessant genoeg is hierdie verbintenis tussen die partikels se verbindingsgeheimenis vinniger werksaam as die spoed van lig! Kwantumverstrengeldheid is die vermoë van twee partikels om intiem aan mekaar verbind te bly selfs wanneer hulle los van mekaar oor groot afstande heen is. Dit is wat Einstein genoem het die spookeffek wat partikels op mekaar uitoefen, selfs as hulle van mekaar verwyder is. Hierdie kenmerk van kwantumfisika is ook een van die merkers wat duidelik in die bestudering van menslike verhoudings gebruik kan word. Seksualiteit as ‘n vuur van God (Hoogl. 8:6) speel ‘n enorme rol in die vorming van hierdie kwantumverhouding. Die vrystelling van sekere breinchemikalieë wanneer daar fisiese aangetrokkenheid tussen mense is, laat sake progressief verloop, totdat dit in seksuele gemeenskap kulmineer. Die gevolglike uitermatige vrystelling van chemikalieë skep as ‘t ware ‘n reële band tussen die betrokkenes wat bou aan ‘n gemeenskaplike wese waarbinne albei persone verstrengel is. Alhoewel dit meer behels, is hierdie implikasie van seksuele eenwording. Dit bring NIE sielsbande mee nie, soos wat dit populêr na verwys word nie. As gevolg hiervan is dit absoluut belangrik dat ons die voorskrif van Heb.13:4 baie ernstig bejeën: “Laat die huwelik in alle opsigte eerbaar wees en die bed onbesmet; want God sal hoereerders en egbrekers oordeel.” Die implikasies vir die verbreking is ontsettend omvangryk en vereis daarna bonatuurlike herstel en restourasie.
Dr. Tom Gouws