BYBELBAAK 99
Daar is verskeie etniese godsdienste ter wêreld: die swart bevrydingsteologie, die Klu Klux Klan en Naziïsme, onder andere, het almal ras ten grondslag van hul teologie. Die etniese godsdiens wat vinnig hier te lande veld wen, is die Israelvisie, of die Brits-Israelisme. Hierdie geloofsgemeenskap is ‘n oorspoeling van veral Brittanje wat aan hulself en hul rasegte nasate ‘n ewige posisie as “volk van God” toeken. Die uitgangspunt van hierdie beweging is Gen. 3:15, wat volgens hulle ‘n onderskeid maak tussen God se saad en die slang se saad. Op grond hiervan is daar die kinders van die vrou (wat dan kinders van God genoem word, of Israel) en die kinders van die slang (wat streng gesproke kinders van Satan is, en derhalwe nie in staat is om tot redding te kan kom nie). Omdat al die swart en geel rasse van Gam afstam, word hulle tot onredbaarheid gedoem. Gam beteken in Hebreeus ‘donker van die son’ en in Egiptiese ‘swart’ en word “the settler in hot Africa” genoem. Noag het die nageslag van Gam (wat hulle glo is swartmense) vervloek tot ewige dienaarskap (Gen. 9:25-27). Die Israelvisie meen dat swartmense nie ‘n siel het nie (hul bedoel eintlik gees), en hulle word derhalwe as diere geklassifiseer. Die Messias het net vir die “verlore skape van die huis van Israel” (volgens hulle NIE die Jode nie, wat hul as ‘n vermenging met die Edomiete as basters en derhalwe as onredbaar beskou) gekom en nét vir hulle redding gebied. Hulle glo dat die Anglo-Saksies-Keltiese nasies die verlore tien stamme van Israel is, die noordelike stamme van die destydse Israel wat in ballingskap geneem is. As gevolg van die verstrooiing van die 10 stamme van Israel is alle rasegte blankes wêreldwyd derhalwe niemand anders as die verstrooide stamme van ouds nie. Hulle voer argumente aan dat die moderne blanke groeperinge in Brittanje, die VSA, Australië, Nieu-Seeland, noordwes Europa, Suid-Afrika, en enkele ander, hierdie verlore stamme vorm. Hulle beskouing is dat die Britse Koningskap ‘n direkte voortspruitsel van die Huis van Dawid is en dat hierdie volkere die nasionale grondslag van die Koninkryk van God op aarde sal vorm. Volgens hulle kom Jesus terug aarde toe om deur dié blanke volkere oor sy nuutgevonde koninkryk op aarde te regeer, en dit sal spesifiek gebaseer wees in Londen as hoofstad, volgens hulle die konkrete Nuwe Jerusalem. Hierdie wit koninkryk sal volgens hulle polities, wetlik en militêr regeer. Paulus noem hierdie tipe redenasies “kunstig verdigte fabels” (2Pet. 1:16). Hulle erken egter glad nie Paulus se sendbriewe in die Bybel nie, omdat hy o.a. in Rom. 10:12-13 sê: “Want daar is geen onderskeid tussen Jood en Griek nie; dieselfde Here tog is Here van almal en is ryk oor almal wat Hom aanroep. Want: Elkeen wat die Naam van die Here aanroep, sal gered word.” Agter alle etniese geloofsraamwerke sit daar ‘n gees van rassisme, en dié word gerig deur ‘n gees van vrees, wat lynreg teenoor geloof staan. Daarom stel Paulus dit duidelik in 1Tim. 1:4 dat ons ons “nie besig (moet) hou met fabels en eindelose geslagsregisters nie, wat net twisvrae bevorder meer as stigting van God wat in die geloof is”. Net twee Skrifte wys onteenseglik uit hoe geperverteerd en verdraaid die basiese uitgangspunte van hierdie beweging is. Die eerste in Hand. 17:26: “En Hy het uit een bloed al die nasies van die mensdom gemaak om oor die hele aarde te woon, terwyl Hy vooraf bepaalde tye en die grense van hulle woonplek vasgestel het”! En dan Op. 5:9, wat Christus aanprys vir sy verlossingswerk en dit dan só uitspel: “U is waardig om die boek te neem en sy seëls oop te maak, want U is geslag en het ons vir God met u bloed gekoop uit elke stam en taal en volk en nasie”. En die troefkaart: soos Moses se Siphora swart was (Num. 12:1), word die Bruid in Hooglied prototipies voorgehou as Sullamities, “dark and lovely” (SoS. 1:5, GW)!
Dr. Tom Gouws