BYBELBAAK 58
Na die uitstorting van die Heilige Gees op Pinksterdag (Junie, 33 n.C.) het huisgemeentes en territoriale geloofsgroeperinge vir ‘n onbepaalde lang periode die Christelike geloof oor die wêreld heen gevestig, veral deur die skrywes en bedieninge van Paulus. In 49 n.C. vind die Jerusalem-konferensie plaas (Hand. 15; Gal. 2:1-10), wat dui op apostoliese rigting en vestiging van die vroeë kerk. Daar is egter bittere teenstand en vervolging deur die regering van die dag, die Romeinse Ryk. Die doktrine wat die apostels en hul geestelike seuns verkondig het, is deur die Jode as sektaries beskou: “die Weg wat hulle sekte noem” (Hand. 24:14), maar dit was as ‘t ware ‘n reformasie van die ou verbond en die vestiging van die nuwe verbond (Heb. 8:8 & 13). Na die vernietiging van die tweede tempel in 70 n.C. het die Christelike geloof verdeel geraak, tot in 313 n.C. waar dit in die Romeinse Ryk erkenning begin ontvang het en deur Konstantijn verkry die Rooms-Katolieke Kerk in 380 n.C. die status van amptelike staatsgodsdiens. Gebaseer op die legende van Jesus se woorde aan Petrus in Matt. 16:16-19 is Petrus as die eerste pous verheilig. In 1054 n.C. is daar ‘n verdeling van die RKK en die Oosterse Ortodokse Kerke. Op 31 Oktober 1517, vandag 500 jaar gelede, spyker ‘n Duitse priester, Martin Luther, 95 stellinge rondom die eerste Reformasie, die Protestantse Reformasie, teen die kerkdeur by Wittenburg vas. Die kernaspekte van hierdie Reformasie is gedra deur die herstelling van die waarheid van verlossing deur Jesus alleen (op grond van Ef. 2:8) en ‘n vestiging van die beginsel van Sola Scriptura, die Skrif wat as enigste geloofsriglyn gebruik moet word. Ons vier vandag die 500ste herdenking van hierdie epogmakende reformasiedag, wat die universele kerk uit die slawerny van die Rooms-Katolieke denksisteem kon vat. Dié reformasie in die kerk van die dag het tot ‘n geweldige sekulêre verandering in die wêreld gelei, wat ons uit die Donker Eeue na die Renaissance (die verligting) gebring het.
Dr. Tom Gouws