BYBELBAAK 65
Hierdie gebod dra gewig as deel van die tien gebooie, en spesifiek as die eerste gebod wat verhouding met ander mense voorhou, nadat die eerste vier gebooie die mens se verhouding met God uitgespel het. In verskillende vertalings is die woordjie “eer” in Engels: esteem, regard, treat with honor, due obedience, and courtesy. Dit beteken om respekvol in woord en optrede te wees en om ‘n innerlike gesindheid van agting teenoor hul te hê. Kinders van alle ouderdomme moet hul ouers eer, ongeag van die feit of hul ouers eer waardig is, of nie. In Ef. 6:1-3 spel Paulus dit ook as ‘n Nuwe-Testamentiese beginsel uit, en wys op die belofte wat daarin vervat is: “Kinders, julle moet jul ouers gehoorsaam wees in die Here, want dit is reg. Eer jou vader en jou moeder—dit is die eerste gebod met ‘n belofte—sodat dit met jou goed mag gaan en jy lank mag lewe op die aarde.” Hierdie belofte kan simbolies wyd geïnterpreteer word, benewens dat jou lewe nie verkort sal word nie, beteken dit letterlik dat jou grondgebied of erfdeel sal vermeerder (Jes. 54:2), in die piktorale Hebreeus: “A reconstruction or healing that causes longer life.” Dit is ‘n belofte waaraan ‘n mens God bepaald kan herinner (Jes. 62:6; 2 Kor. 1:20) en waarop jy kan staan voor God (Jer. 35:18-19). Vir hulle wat ongehoorsaam is aan hul ouers, spel Rom. 1:28-30 uit dat God hulle sal oorgee aan ‘n slegte gesindheid, om te doen wat nie betaam nie. As ouers doen wat teen die wil van God is, hoef kinders hul nie na te volg nie (Eseg. 20:18-19). In alle dinge moet ons aan God meer gehoorsaam wees as aan ons ouers (Hand. 5:29). In Kol. 3:20 word hierdie saak eenvoudig saamgevat: “Kinders, wees in alles aan julle ouers gehoorsaam, want die Here verlang dit van kinders wat in Hom glo.”
Dr. Tom Gouws