Wat presies is die wegraping wat mense op 23 September 2017 verwag? Moet ek bang wees?

BYBELBAAK 30

Nee. Net teologiese goggas maak vir babas in die geloof bang. Op 24 September 2017 sal dit weer eens bevestig word dat die meeste gelowiges nie die Bybel se boodskap oor Jesus se terugkeer verstaan nie. Hierdie leer van die wegraping is veral deur Tim LaHaye se ‘Left behind’-reeks gevestig. Op grond van ‘n foutiewe interpretasie van die laaste 7 jaar in Daniël (9:25-27) se profesie oor die geskiedenis en die volvoering van die epog van die Jode word ‘n eindtydleer versin wat in twee periodes van drie-en-‘n-half jaar verdeel word, en dan gebuik word om die wegraping te verduidelik. Dié interpretasie is nie logies, histories-korrek of Bybels verdedigbaar nie. Net twee Skrifgedeeltes word veral gebruik om die wegraping te verduidelik. Matt. 24:40-41 praat van twee wat op die land sal wees, die een word aangeneem en die ander word verlaat. En: “Twee vroue sal by die meul maal; die een word aangeneem en die ander word verlaat.” Hierdie verse, soos trouens die hele Matt. 24 waar dit sogenaamd gaan oor die tekens van die tye, moet gelees word in die lig van vers 34: “Voorwaar Ek sê vir julle, hierdie geslag sal sekerlik nie verbygaan voordat al hierdie dinge gebeur het nie.” Een geslag (= 40 jaar) ná dit uitgespreek is (30 n.C), het die vernietiging van die tempel en van Jerusalem in 70 n.C. plaasgevind. Matt. 24 (EN AL die sg. eindtydtekens) het dus REEDS plaasgevind. Die ander Skrif is 1 Thes. 4:17 – “Daarna sal ons wat in die lewe oorbly, saam met hulle in wolke weggevoer word die Here tegemoet in die lug; en so sal ons altyd by die Here wees.” Die woordjie “wegvoer” in Grieks beteken “to take something or someone firmly” en word afgelei van die woord wat beteken to “seize”. Die Engelse woord ‘rapture’ kom van die Latyn waar ‘rapere’ beteken: “to snatch”. Die woordjie ‘rape’ het dieselfde basis, “taking by force”. Hierdie Skrif verwys duidelik na die “opstanding” waarvan Fil. 3:11 (AMP) ook praat: “the [spiritual …] resurrection [that lifts me] out from among the dead [even while in the body].” Wanneer ons met wedergeboorte geestelik uit die dood opstaan, soos Jesus, word ons ook saam met dié wat reeds in Christus gesterf het, deel van die wolk van getuienis. “In die lug” beteken ‘in die geestelike realm’. God kom woon met/in ons; die Nuwe Jerusalem daal uit die geestelike realm neer na die aarde toe; ons beërwe die nuwe aarde en dit is ‘n dramatiese vereniging met Hom en die res van die Liggaam. Ps. 115:16 spel dit uit – “Die hemele is hemele vir die HERE, maar die aarde het Hy aan die mensekinders gegee.” Jesus se gebed in Joh. 17:15 trek ‘n streep deur die wegrapingsteorie: “Ek bid nie dat U hulle uit die wêreld wegneem nie, maar dat U hulle van die Bose bewaar.”

Dr. Tom Gouws