BYBELBAAK 75
Jehovagetuies word gewoonlik uitgeken daaraan dat hulle twee-twee van huis tot huis beweeg en met mense oor geloofsake praat, en ook dat hulle soms hul lektuur, boeke, traktaatjies en hul tydskrif, Die Wagtoring, uitdeel/verkoop. Hulle is ywerig en hartlik, het ‘n bewonderingswaardige diensbereidheid vir die evangelie en goeie kennis oor die grondslae van die beweging wat hulle verkondig. Alhoewel hul rondom sekere fundamentele aspekte van die hoofstroomkerke verskil, is hulle merkwaardig suiwer uit Bybelse oogpunt rondom van hul kernleringe. Maar daar is ten minste twaalf doktrinisiese sake wat hul verkondig wat Bybels glad nie verdedigbaar is nie. 1: God mag net as Jehova aangespreek word. 2: Jesus se dood en opstanding is ‘n losprys en bewerk nét die loskoping van sonde. 3: Hulle glo Jesus is nie God nie, maar wel die hoogste geskape Wese, te wete: die aartsengel Michael, wat God geroep het vir hierdie doel. 4: Die Heilige Gees is net ‘n krag of energie, nie ‘n Persoon nie. 5: Hulle glo Jesus het reeds in 1914 teruggekeer (voor dit was dit 1874). 6: Die koninkryk van God is in die hemel, en dit sal later ook op die aarde kom, nié binne ‘n gelowige nie. 7: Hulle glo in bepaalde letterlike eindtydkonsepte soos Armageddon en die duisendjarige vrederyk (wat hul beskou as ‘n oordeel van 1000 jaar). 8: God sal miljarde mense deur middel van ’n opstanding weer lewend maak, maar diegene wat weier om God se weë te volg nadat hulle opgewek is, sal vir ewig vernietig word sonder enige hoop op ’n opstanding. 9: Die mening word gehuldig dat slegs ‘n letterlike getal van 144 000 gelowiges sal opgewek word tot lewe in die hemel om saam met God, Jesus en die engele in die Koninkryk te regeer. Die res van die gelowiges sal op aarde as ‘n herstelde paradys bly en deur daardie heerskappy regeer word. 10: Daar is ‘n onwrikbare geloof dat nét die Jehovagetuies die openbaring en onderskeiding het en net hulle deur God gebruik word om die waarheid oor te dra. Dit verklaar ook hul evangelisasie-ywer. 11: Die beheerliggaam van die Getuies mag nooit teengegaan word nie, want hulle is God se spreekbuis tot die mensdom. 12: Eietydse kontroversies waaroor die Jehovagetuies baie sterk menings huldig, is dat net mans die geestelike leiding mag neem; hulle glo nie in bloedoortappings of inenting, of deelname aan oorloë nie.
Dr. Tom Gouws