
BYBELBAAK 33
In die tyd wat verloop het tussen Adam se val (toe hy die ewige lewe verloor het) en die groot vloed van Noag het – Bybels bereken – bykans1652 jaar verloop [ongeveer dieselfde tydspan vanaf Jesus se geboorte tot Jan van Riebeeck aan die Kaap geland het]. Die mense wat volgens Gen. 5 in daardie tyd geleef het, het besonder oud geword, met Metúsalag wat die rekord hou van 969 jaar oud. Die rede vir hierdie lang lewensduur is tweeledig. Eerstens was die genetiese poel nog baie skoon en was daar baie min ongeregtighede en siekte in die geslagslyne. Tweedens het die waters bo die aarde (Gen. 1:7) ‘n koepel oor die aarde gevorm wat ‘n hidrosfeer meegebring het wat alles op die aarde grootliks in ‘n ideale toestand laat voortbestaan het. Hierdie omstandighede het ook daarvoor gesorg dat die mens besonder oud kon word. In Gen. 7:11 lees ons dié toestand het verander toe die waters bo die aarde as reën uitgegiet is en die vloed meegebring het (Ps. 104:6). [Dit was dan ook die eerste keer dat reën op die aarde geval het (Gen. 2:5-6; Heb. 11:7) én die reënboog vir die eerste keer sigbaar geword het (Gen. 9:13-16).] Met dié radikale verandering in die mens se leefwêreld het sy potensiële lewensduur drasties verkort: “Toe sê die HERE: My Gees sal nie vir ewig in die mens heers nie, omdat hy ook vlees is; maar sy dae sal wees honderd en twintig jaar.” (Gen. 6:3). Na my mening is dit nog God se staande besluit oor die toebedeelde ouderdom aan die mens, iets wat die Guinness World Records bevestig. In Ps. 90 skryf Moses oor “our iniquities, our secret heart and its sins” (vers 8,AMP) wat die mens se lewe verkort tot “sewentig jaar, of as ons baie sterk is, tagtig jaar” (vers 10). Maar die feit dat sommige mense wel veel ouer word, maar nie ouer as 120 nie, wys duidelik dat dít die grens is wat God gestel het en waarop ons moet fokus. Tog is daar ‘n sterk bewussyn dat God met Rom. 8:11 ‘n nuwe bedeling oor hierdie saak in die vooruitsig stel: “En as die Gees van Hom wat Jesus uit die dode opgewek het, in julle woon, dan sal Hy wat Christus uit die dode opgewek het, ook julle sterflike liggame lewend maak deur sy Gees wat in julle woon.”
Dr. Tom Gouws