Wat sê die Bybel oor die groot verdrukking wat kom?

BYBELBAAK 34

Uitstekende nuus vandag: die groot verdrukking is lank terug reeds verby! Pinkster- en Charismatiese eindtydpredikers wat op grond van die tydlyn van die profeet Daniël en Jesus se waarskuwings in Matt. 24 ‘n groot verdrukking in die eindtyd propageer, en só vreesagtigheid aanwakker, ken nie die Bybel nie, wil die waarheid nie hoor nie en wend hul tot verdigsels (2 Tim. 4:4). Daniël 9 se tydlyn is reeds in 36 n.C. met die dood van Stéphanus tot die letter toe afgehandel. En: Matt. 24 handel oor die destruksie van die Joodse tempel, EN ALLES in dié hoofstuk is ook reeds afgehandel teen 70 n.C.! In vers 34 verduidelik Jesus aan sy toehoorders dat ALLES wat gaan gebeur reeds in hulle generasie gaan plaasvind. Al daardie verskriklike gebeure is dus lankal reeds verby, en ‘n sekulêre geskiedkundige van daardie tyd, Josefus, het die vervulling daarvan in detail gedokumenteer. Daarenteen – die groot verdrukking vind letterlik reeds elke dag plaas: “Soos geskrywe is: Om U ontwil word ons die hele dag gedood, ons is gereken as slagskape.” (Rom. 8:36). Ons is deelgenote aan die verdrukking (soos Johannes homself noem in Op. 1:9), maar die doel daarvan is dat Christus SÓ in ons gestalte kry (Gal. 4:19)! Dwarsdeur die Nuwe Testament word ons aangemoedig om verdrukking te ly met vreugde en blymoedigheid (Rom. 12:12, 2 Kor. 1:4, 2:4, 7:4, 8:2, 13-14, Fil. 4:14, Kol. 1:24, 1 Thes. 1:6, 3:7, 2 Thes. 1:6, 2 Tim. 2:9, 4:5 en Op. 2:9-10). Dié verdrukking maak jou geestelike bekleding sonder vlek (Op. 7:14). Dáárom: “Vrees vir niks wat jy sal ly nie.” (Op. 2:10) en – “Ly dan verdrukking soos ‘n goeie krygsman van Jesus Christus.” (2 Tim. 2:3). Alle vorme van verdrukking lei vir die gelowige tot ‘n wonderbaarlike uitkoms: want “ons ligte verdrukking wat vir ‘n oomblik is, bewerk vir ons ‘n alles oortreffende ewige gewig van heerlikheid” (2 Kor. 4:17)!

Dr. Tom Gouws