BYBELBAAK 28
In die wet van Moses is die onderhouding van die Sabbat as ‘n wet vir die Israeliete geproklameer (Eks. 20:8-11), maar dit is ook vir hul ‘n teken van ‘n ewige verbond (Eks. 31:13-17). Ná die profeet Esegiël oor die Sabbat gepraat het, volg die klein profete, en net twee van hulle het elk bloot ‘n enkele verwysing na die Sabbat, en albei staan in die teken van beëindiging (Hos. 2:11; Amos 8:5). Ons weet reeds dan dat God sy ewige verbond met Israel gaan verbreek (Jes. 24:5). Hierdie opheffing van die verbond beteken noodwendig ook die opheffing van die priesterskap wat die verbond bedien het [waaroor die ganse profetiese boek Maléagi (2:8 veral) handel]. As daar met die priesterskap weggedoen word, val die wet ook weg (Heb. 7:12). Daarom sug Paulus in Gal. 4:9-10: “hoe keer julle weer terug tot die swakke en armoedige eerste beginsels wat julle weer van voor af aan wil dien? Julle neem dae en en maande en tye en jare waar.” Nuweverbondse gelowiges wat enige aspek van die wet wil onderhou, hou vas aan die skaduwee en verloor die substans van God. Onder die wet, al was Jesus sondeloos, het Hy wel tog oortredinge van die wet gehad, baie spesifiek die verbreking van die Sabbatswet (Matt. 12:1-14). Dit is belangrik om te sê: die sewende dag, in ons sonkalender, is wel Saterdag, nie Sondag nie. In die tyd van die evangelies asook die tyd van Handelinge word gemeld dat daar tydens die Sabbat (= Saterdag) georganiseerde byeenkomste was (sien bv. Luk. 4:15-17 en Hand. 13:14-15). Benewens die Sabbat, het die Nuwe-Testamentiese gelowiges ook die eerste dag van die week (ons Sondag) gevier as “die dag van die Here” (Op.1:10). Daar is wyd deur Katolieke en Protestante geargumenteer dat met die feit dat Jesus op die eerste dag van die week uit die dode opgestaan het, die klem geskuif het na Sondag (die eerste dag van die week) as die Sabbat en dat dit toe die dag van geestelike byeenkomste was (Hand. 20:7; 1 Kor. 16:3). Dit is egter nie ‘n korrekte aanname nie. Wat eerder waar is, is dat hulle “elke dag” byeen gekom het (Hand. 5:42). In Rom. 4:15 word eksplisiet die Nuwetestamentiese riglyn oor hierdie saak gebied: “Die een ag die een dag bo die ander, die ander ag al die dae gelyk. Laat elkeen in sy eie gemoed ten volle oortuig wees.” Dus: “laat niemand julle dan oordeel … met betrekking tot (die) sabbat nie …” (Kol. 2:17).
Dr. Tom Gouws