Wat staan Christene te doen rondom die oproep tot nie-betaling vir e-tol?

 

BYBELBAAK 110

 

Die betaling van e-tol is as voorbeeld ‘n kontroversiële saak, veral omdat die meeste van ons worstel met die eksplisiete, ondubbelsinnige riglyn van Rom. 13:1-8: “Laat elke mens hom onderwerp aan die magte wat oor hom gestel is, want daar is geen mag behalwe van God nie, en die wat daar is, is deur God ingestel, sodat hy wat hom teen die mag versit, die instelling van God weerstaan; en die wat dit weerstaan, sal hulle oordeel ontvang. Want die owerhede is geen voorwerp van vrees by die goeie dade nie, maar by die slegte. Maar wil jy die mag nie vrees nie, doen wat goed is, en jy sal lof van hom ontvang; want hy is ‘n dienaar van God, jou ten goede. Maar as jy kwaad doen, vrees dan; want hy dra die swaard nie verniet nie, want hy is ‘n dienaar van God, ‘n wreker om die een wat kwaad doen, te straf. Daarom is dit noodsaaklik om jou te onderwerp, nie alleen ter wille van die straf nie, maar ter wille van die gewete. Want daarom betaal julle ook belastings; want hulle is dienaars van God wat juis hiermee voortdurend besig is. Betaal dan aan almal wat aan hulle verskuldig is: belasting aan die wat belasting, tol aan die wat tol, vrees aan die wat vrees, eer aan die wat eer toekom. Wees aan niemand iets skuldig nie …” Daar is bepaald gevalle waar die heerskappy korrup is, waar die keiser kaal en skelm is, die belastingsisteme onregverdig en ‘n dwingelandy vir die meeste mense is, en derhalwe is burgerlike verset op alle vlakke nodig om die misbruik van mag, onregverdigheid en gulsigheid deur die trogvreters van ‘n geïnstitusionaliseerde sisteem uit te wys en selfs teen te staan. Maar soos in die geval van Daniël en Josef, word van Christene verwag om God waardig te dien, ook binne die raamwerk van enige onregverdige regeringstelsel waaronder hulle geroepe is om te lewe. Josef het eerste minister van die heidense Egipte geword sonder om sy geloof prys te gee, en is kragdadelik gebruik om sy mede-Hebreërs van ‘n hongerdood te red. Daniël het vreesloos getuig van die almag en soewereiniteit van God in die heidense hof van Nebukadnésar, Bélsasar en Darius, en hy is tot die hoogste rang in die regering bevorder, want “die Allerhoogste het mag oor die koningskap van die mens en gee dit aan wie Hy wil” (Dan. 4:17). Farao is deur God opgerig (Rom. 9:17), so ook Kores (Jes. 44:28), Nebukadnéser (Dan. 2:37—38), derhalwe ook Zuma. Toe Jesus voor Pilatus verskyn het, het Hy beklemtoon dat die landsgesag deur God ingestel: “U sou geen mag teen My hê as dit u nie van bo gegee was nie.” (Joh. 19:11). Maar dit beteken nie wetsgehoorsame burgers mag nie hul misnoë toon in burgelike verset nie. Rosa Parks het dit gedoen toe sy gaan sit het op ’n bussitplek wat net vir blankes was. Mahatma Gandhi en Martin Luther King Jnr. het dit gedoen; die eetstakers in gevangenskap, die eko-aktiviste wat hul voor stootskrapers aan ’n boom vasketting; die Anglikaanse biskop David Russell toe hy in 1977 voor stootskrapers gaan lê het toe hulle huise wou platstoot kragtens die Groepsgebiedewet; HD Thoreau toe hy geweier het om belasting te betaal vir ’n dorp wat slawerny ondersteun het; die Khwezi-aktiviste het woordloos ‘n enorme bewussyn geskep … Die lys is lank en dikwels heroïes. Maar elke gelowige moet dit bepaald volgens sy persoonlike gewete, in gees en waarheid, met God uitmaak.

Dr. Tom Gouws