Wat veroorsaak jaloesie in gelowiges, wat is die gevolge daarvan, en hoe kan ek dit oorkom?

 

BYBELBAAK 83

 

Jaloersheid is ‘n destruktiewe hartsingesteldheid. Die oop deur van hierdie gees is dikwels ‘n ingesteldheid van vergelyking met andere, ‘n sterk kompetisie-ingesteldheid, verontregting, of minderwaardigheid. Afguns is die siamesetweeling-sussie van selfsug. Ten diepste is die jaloerse persoon uiters selfsugtig en uit ‘n sielkundige oogpunt narcisisties. Alle jaloesie is omdat die ek voel hy/sy is iets ontneem. En bykans altyd lei dit na dit wat die Amplified (Jam. 3:16) so netjies uitwys: “For wherever there is jealousy (envy) and contention (rivalry and selfish ambition), there will also be confusion (unrest, disharmony, rebellion) and all sorts of evil and vile practices.” Jaloersheid bring veral hooploosheid en depressie mee. Moet nooit bv. afgunstig wees op ongelowiges se voorspoed nie (Spr. 23:17-18). Jaloesie maak jou gemeen en wreed (Hoogl. 8:6). Ook bring jaloesie kragteloosheid mee, want dit roof jou vreugde (Neh. 8:10). Jaloesie veroorsaak bitterheid, en die gevolge daarvan is enorm, want dit laat jou in die genade veragter (Heb. 12:15) en baie meer as jy word hierdeur besoedel. Paulus se praktiese wysheid in Fil. 4:11-12 is die sleutel in die hantering van die invloed van die gees van jaloersheid in jou lewe: “ek het geleer om vergenoeg te wees met die omstandighede waarin ek is. Ek weet om verneder te word, ek weet ook om oorvloed te hê; in elke opsig en in alle dinge is ek onderrig: om versadig te word sowel as om honger te ly, om oorvloed te hê sowel as om gebrek te ly.” Bepaald: “die godsaligheid saam met vergenoegdheid is ‘n groot wins” (1 Tim. 6:6).

Dr. Tom Gouws