BYBELBAAK 132
Ons lees in Luk. 21:22 oor die vernietiging van Jerusalem in 70 n.C. dat Jesus uitspel dat dit gaan gebeur “sodat alles wat geskrywe is, vervul kan word”. Synde dat die vier evangelies streng gesproke ook deel van die ou verbond is, met bepaalde profesieë van Jesus oor Israel wat vervul moes word, is dit vir die profesieë van die Ou Testament belangrik om Luk. 16:16 (ISV) te onthou– “The Law and the Prophets remained until John the Baptist. SINCE THEN, the good news about the kingdom of God has been proclaimed.” In hierdie lig kan mens verstaan dat al die Ou-Testamentiese profesieë wat klaarblyklik handel oor wat met Israel in die sogenaamde eindtyd gaan gebeur, reeds alles vervul is. Dit is bv. die geval met Eseg. 38-39, ‘n gedeelte wat dikwels gebruik word om te verduidelik hoe alles opbou tot die slag van Armageddon. En dit alles word in die toekoms gesitueer op grond van wat in Eseg. 38:16 staan: “en jy sal optrek teen my volk Israel soos ‘n wolk om die land te oordek. Aan die einde van die dae sal dit wees …” Die gebrek aan die groter konteks van God se voltrekkende plan en ‘n onhoudbare hermeneutiese beginsel om alles in die Woord te verletterlik gee ook hier aanleiding tot gruwelike misleiding. Die begrip “einde van die dae” in die Ou Testament dui dikwels op iets wat bloot in die toekoms lê (Deut. 4:32; 31:29; Rigt. 2:20-22; Dan. 2:28; Jer. 48:47; 49:39). Al hierdie verwysings na “die einde van die dae” het toe in die afsienbare toekoms gebeur, en is dus vervul! In Heb. 1:1 word eksplisiet gestel dat God met ons in “die laaste dae” praat NET deur sy Seun. Ralph Woodrow, in sy boek: His Truth is Marching On: Advanced Studies in Prophecy in the Light of History, bied duidelike historiese vervullings van OT profesieë, maar dis veral James Jordan met sy Esther in the Midst of Covenant History wat absoluut oortuigend uitwys hoe die hele geskiedenis vanaf Eseg 34-39 haarfyn vervul is met die geskiedenis van die Jode in die tyd van Ester! Dit sluit die detail name, getalle, plekke, gebeure, en so meer in. Die profesie is met ander woorde reeds vervul. In Kelly Varner se openbarende lesing van die boek Esegiël, Principles of Present Truth from Ezekiel, wys hy ondubbelsinnig uit hoe die ganse geskiedenis van die Gog en die Magog reeds voltrek is. In Whose Right It Is speel hy Skriftuurlik en absoluut helder klaar met die nosie dat Armageddon ‘n fisiese oorlog gaan wees en toon aan wat die Bybel en die geskiedenis daaroor sê en hoe hierdie ‘slag van Armageddon’ ‘n realiteit is waarmee ek en jy daagliks te doen het in ons poging om die Koninkryk te laat kom, soos in die hemel, so ook op die aarde. Ons hoef nie elke Ou-Testamentiese profesie oor Israel te vat en te wys dis reeds vervul nie. Die beginsel wil ek net duidelik benadruk: Al die sogenaamde profetiese sake aangaande Israel is alles alreeds vervul, soos Jos. 21:45 dit prototipies uitspel: “Geen woord van al die goeie woorde wat die HERE met die huis van Israel gespreek het, het onvervuld gebly nie; alles het uitgekom.” Al die Ou Testamentiese profesieë, ook oor Israel het reeds in die werklikheid tot vervulling gekom en afgespeel. Dit is egter wél so dat alles van die ou verbond óók geestelik of tipologies verklaar moet word, soos Rom. 15:4 (AMP) dit mooi uitspel: “Even if it was written in Scripture long ago, you can be sure it’s written for us. God wants the combination of his steady, constant calling and warm, personal counsel in Scripture to come to characterize us, keeping us alert for whatever he will do next.” Of soos 1Cor. 10:6 (LONT) dit raak stel: “these things have become types to us”. Maar dit het niks meer soseer met Israel te doen nie.
Dr. Tom Gouws