BYBELBAAK 38
Jesus spel dit uit in Matt. 11:13 – “al die profete en die wet het tot op Johannes geprofeteer”. Johannes die Doper was die laaste én grootste persoon van die ou verbond (Matt. 11:11). Om hierdie rede moes hy byvoorbeeld sy kop verloor (Matt. 14:10), sodat Jesus prototipies die ware Hoof van die Liggaam kon word (Kol. 1:18). Met ander woorde: die wet en die profete het alles nét tot op Johannes die Doper geprofeteer. Luk. 16:16 stel dit meer eksplisiet: “Die wet en die profete was tot op Johannes; van toe af word die evangelie van die koninkryk van God verkondig …” Die Skrif wat dit uitspel, is die gebeure op die berg van verheerliking toe Moses (= verteenwoordiger van die Wet) en Elia ( = verteenwoordiger van die profete) as deel van die wolk van getuies gemanifesteer het. Petrus was vinnig om drie “hutte” te wil bou waar hulle kon bly (met ander woorde tydelike tabernakels op te rig), maar God oordek hulle al drie met sy teenwoordigheid in die wolk, waarin Moses en Elia verdwyn, en sê toe: “Dit is my geliefde Seun in wie Ek ‘n welbehae het. Luister na Hom!” Dus: die stem van die wet en die stem van die profete is nie meer die stem wat die pad aanwys nie, net Jesus s’n is – luister na Hom. Die brief aan die Joodse Christene, Hebreërs (1:1), spel dit vir hul só uit: “God, who gave to our forefathers many different glimpses of the truth in the words of the prophets, has now, at the end of the present age, given us the truth in the Son.” Op. 19:9-10 maak dit helder: “Testimony to Jesus is the spirit which underlies Prophecy.” Die ganse Ou-Testamentiese profesieë getuig nét van Jesus die Christus. Baie mense misbruik Ou-Testamentiese profesieë om byvoorbeeld die toekoms van Israel of sekere wêreldgebeurete te voorspel, maar dis onteenseglik nié hoe die Bybel dit aanbied nie.
Dr. Tom Gouws