BYBELBAAK 60
Naasteliefde beteken nie ‘n blindelingse “lief vir alles hier” nie, nee – jou naaste is nie die ganse mensdom nie. Die definisie vir “naaste” is met die loop van eeue een van die mees betwiste onderwerpe, veral wanneer mense dit nié uit Bybelse oogpunt beredeneer nie, maar uit ‘n geloofs-eksklusiewe, humanitêre, politieke of rassistiese oogpunt. Daar is byvoorbeeld gelowiges wat ‘n sterk rasgedrewe geloofsoortuiging het wat hul met ritse verse uit die Bybel probeer regverdig, maar wat duidelik nie bepaalde kontekste waarin die Skrifte gebruik word, verreken nie. Sou jou naaste dan net diegene wat fisies naby jou is/bly? Moet nie bespiegel oor wie jou naaste is nie – die volgende onverwagte persoon met wie jou pad kruis, kan dalk jou verstaan van wie jou naaste is, verander! Jesus bied die antwoord in Luk. 10:25-37 in die gelykenis van die barmhartige Samaritaan: “Wie dan van hierdie drie, dink jy, was die naaste van hom wat onder die rowers verval het? En hy antwoord: Hy wat barmhartigheid aan hom bewys het.” Hierdie gelykenis in antwoord op die vraag: “wie is my naaste?”, bied geen eenvoudige, ‘regte’ antwoord nie. Die aha-moment van die vertelling lê nié in die oënskoulik maklike antwoord: die barmhartige Samaritaan, nie, nee! Die kruks van die verhaal setel in die opmerking wat ten grondslag van die gelowige wetsgeleerde se hartsgesindheid lê, soos wat dit uitgespel word in vers 29: “Maar hy wou homself regverdig”, “desirous to appear blameless” (LONT), “looking for a loophole” (MSG). Die begrip ‘om jouself te regverdig’ word ‘n paar hoofstukke later verklaar: “Dit is julle wat julself regverdig voor die mense, maar God ken julle harte; want wat want wat by die mens hoog geag word, is ‘n gruwel voor God.” (Luk. 16:15). Geregtigheid is duidelik nie eiegeregtigheid nie, en GEEN wet kan jou regverdig of kwytskel nie – “aangesien uit die werke van die wet geen vlees voor Hom geregverdig sal word nie” (Rom. 3:20). Daarom dat die persoon wat die vraag vra spesifiek as ‘n “wetsgeleerde” benoem word, en Jesus pertinent vra: “Wat is in die wet geskrywe? Hoe lees jy?” Duidelik praat Jesus hier van die gees van die wet (Rom. 7:6). Maar onthou – die vraag het eintlik nie gegaan oor wie is jou naaste nie – die hiperteks handel oor die groot gebod van die liefde, wat Jesus deur sy gelykenis onteenseglik koppel aan geregtigheid, en dit lei na die demonstrasie van ‘n bepaalde hartsgesindheid. Jou naaste word nie bepaal deur ‘n spesifieke groepering mense wat jy moet liefhê nie; jou hartsgesindheid en die mate waarin die volmaakte liefde van God uit jou hart vloei, bepaal jou naaste! Dit is presies omgekeerd as wat ons nog altyd geleer is. Die vraag is dus nie wie is my naaste nie; die vraag is – wat is die kondisie van my hart – hoeveel van God se liefde is ek in staat om uit my te laat vloei? Nou kan ‘n mens besef dit is nie noodwendig ‘n humanitêre free for all nie. As Jesus in Joh. 5:42 sê: “Maar Ek ken julle, dat julle die liefde van God in julle nie het nie”, beteken dit egter eenvoudig dat die liefde altyd die enigste maatstaf vir God is, en dat uit die totale oorvloed van Sy liefde wat volledig reeds in jou hart uitgestort is (Rom. 5:5), jy diégene wat vandag die naaste aan jou kom, goed sal doen, en sonder verwagting, onderskeid of beperking hul met met vrye keuse (Filémon 1:14) met onverdiende en ongevraagde welwillendheid sal bedien, omdat jý “vol van goedheid is” (Rom. 15:14). Kindness matters. Welwillendheid tel.
Dr. Tom Gouws