BYBELBAAK 136
Ps. 110:2 sê: “U magtige septer sal die HERE uitstrek uit Sion en sê: Heers te midde van u vyande.” Sion in die Skrif is ‘n simbool van die Bruid van Christus (Heb. 12:22). Hierdie “rod of Your strength” soos dit in die oorspronklike Hebreeus genoem word, “(that Yahweh will) dispatch from Zion” (Feuer-vertaling), word in die Midrash Yelamdeinu voorgehou as dieselfde staf wat regdeur die Joodse geskiedenis deel was van verskeie uitsonderlik wonderbaarlike insidente. Volgens hierdie kommentaar van die rabbi’s is die staf die eerste keer deur Jakob gebruik toe hy die Jordaan in twee verdeel het (volgens die Midrash Aggadah se kommentaar op Gen. 32:10, iets wat nie eksplisiet in ons vertalings duidelik is nie). Moses en Aäron het klaarblyklik dieselfde staf gebruik om die wonderwerke voor die oë van die Farao te doen (Eks. 4:3; 7:10). Ook sou Dawid hierdie staf in sy hand gehou het toe hy met Goliat gaan veg het (1Sam. 17:40), dieselfde staf wat hy dan ook regdeur sy heerskappy in die Dawidiese dinastie gebruik het. Die rabbi’s beweer dat toe die Tempel vernietig is, is die staf deur Yahwe weggesteek. Om hierdie interpretasie van die rabbi’s uit nuweverbondsperspektief te verstaan, vra dat ons ‘n paar kantaantekeninge daarrondom maak. Ons weet dat die staf van Aäron, nadat dit in Num. 17 gebruik is om die geestelike outoriteit van Moses en Aäron onder die opstandige Jode te bevestig, later in die ark van die tabernakel geplaas is (vers 10). Heb. 9:4 bevestig dat die staf beslis in die ark geplaas is. Duidelik het Dawid en al die ander geloofshelde wat die staf sogenaamd hanteer het nié elke keer die fisiese staf uit die ark van die tabernakel gehaal om Yahweh se krag te demonstreer nie, nee. Die staf wat hulle gebruik het, was bepaald die geestelike (ekwivalente) staf – dis hoekom Dawid onder andere in Ps. 23:4 bid – “u staf dié vertroos my” en Miga (7:14, KJV) sê: “Feed Thy people with Thy rod …” , aksies wat net deur ‘n geestelike staf moontlik kan wees. Daarbenewens het die ark van die tabernakel, met staf en al, met die vernietiging van die eerste tempel verdwyn. Volgens die apokriewe Tweede Boek van die Makkabeërs het die profeet Jeremia in 587 v.C. die ark stilletjies verwyder en gaan wegsteek êrens. Die staf wat Jakob, Moses, Dawid, Elisa (2Kon. 4:29 &31) et al. gebruik het, is presies ook dieselfde septer wat ek en jy, mits ons deel is van die Bruid (= Sion), gebruik om te heers oor die vyand. Volgens Webster’s Dictionary beteken “dispatch” in die Skrif hierbo: “To conclude an affair with another; to transact and finish.” Die Bruid is gekontrakteer om die oorwinning van die kruis af te handel met dieselfde geestelike staf van sy sterkte as ons geestelike voorgangers!
Dr. Tom Gouws