Kan ek iemand se naby-doodse ervaring oor hoe die hemel of die hel lyk, vertrou?

 

BYBELBAAK 145

 

Baie gelowiges se verweer dat mense definitief hemel of hel toe gaan as hulle sterf, al sê die Bybel dit glad nie, word gerugsteen deur getuienisse van persone wat óf na ‘n siekbed/ongeluk “sterf”, terugkeer, en dan ‘live to tell the story’. Dit is gewoonlik dramatiese getuienisse van wat hulle beleef het tydens hierdie ervaring waarin hulle “weggeruk is tot in die derde hemel” (2Kor 12:2), ‘n frase wat dikwels misbruik word om dié mistieke ervaring Bybels te verklaar. In sy boek The Light Beyond gee Raymond Moody tien algemene “merkers” vir NDEs (naby-doodse ervarings) wat gemeenskaplik is aan alle geloofsgroeperinge, selfs hulle wat in “niks” glo nie, m.a.w. sekulariste of niegelowiges: ‘n gewaarwording dat jy dood is; vrede, en geen pynervaring; ‘n gevoel of bewussyn dat jy jou liggaam verlaat; beweeg deur ‘n tonnel; ontmoetings met “persone van lig”; ‘n ontmoeting met ‘n “Being of Light”; jou lewe wat verby jou flits/opgesom word; ‘n baie vinnige transportering hemel toe; ‘n onbehae, selfs onwilligheid, om terug te keer; en ‘n totaal ander belwenis van tyd en ruimte. Mense sogenaamd op pad hel toe, voel ‘gevange’ in ‘n betekenislose, verwarrende dwaal, ‘n bewuswording van ander wesens wat insgelyks doelloos rondsweef, gevange in hul eie brandende begeertes, haat, vrese. George Hover, in sy boek What Happens When I Die? sê dat navorsing bewys dat Jode, Christene, Hindoes, Moslems, ateïste, en niegelowige mense bykans almal dieselfde ervarings het, met net een uitsondering – die identifisering van die Mistieke Figure en hul benaminge. Elke geloof het sy eie voorstellings van sy God/god/afgod/gode/heiliges/wesens en sal hulle dienooreenkomstig so benoem. Daar is uitvoerige vergelykende navorsing wat bevind dat geen Hindoe sien Jesus nie, geen Christen ‘n Hindoe god nie! ‘n Aborigine van Australië ontmoet bv. in sy NDE die Skilpadmangees. ‘n Belangrike ander gegewe is dat in die NDEs van Christene waarin hulle sê dat hulle Jesus gesien het, verskil die beelde van hoe Jesus lyk. Bv. dat sy haarkleur bruin/swart/goud is, terwyl Op. 1:14 sê: “Sy hoof en hare was wit soos wit wol, soos sneeu.” Hulle kan tog nie almal reg wees nie? Navorsing oor NDEs toon dat in 99,9% van die gevalle die persone nie klinies dood was nie. Dr. Greene, in If I Should Wake Before I Die, maak dié kategoriese stelling: “Almost by definition, the person who has a memory of the ‘death process’ was not, in fact, dead.” NDEs was dus as gevolg van bepaalde fisiologiese prosesse terwyl die liggaam en die brein geveg het om oorlewing. Die skoktoestand van die liggaam en die brein se verantwoordelikheid om sin daarvan te maak, lei dikwels tot ‘n kombinasie van depersonalisasie en losmaking/”detachment” (wat resulteer in die “ek kyk neer op my eie liggaam”-ervaring) en selfs visuele hallusinasies (a.g.v. van die gebrek aan bloedvloei na die brein en die chemiese wanbalanse, hoofsaaklik a.g.v. gebrekkige glukosevoorsiening). Die bloedvloei na die brein is noodsaaklik vir die proses van lewe (en bewussyn), en enige bedreiging laat meer bloed na die brein gaan (deur vergroting van die are na die brein en die vernouing van die res van die liggaam se are), laat veel meer suurstof deur, wat ‘n noodwendige gevoel van euforie, vrede, vreugde en geluksaligheid meebring, selfs delirium. Chemies-geïnduseerde medikasie tydens operasies kan uiteraard verskeie psigiese ervarings meebring: helder beelde, sensasies van vlieg of baie vinnig beweeg, vinniger denk- en verbeeldingsprosesse, en selfs ‘n “godsdienstige” bewussyn. Wanneer die liggaam in erge stres verkeer (byvoorbeeld met beserings tydens ‘n ongeluk of trauma gedurende ‘n operasie) skei die pituïtêre klier groot hoeveelhede endorfiene (die liggaam se natuurlike morfien) af om pyn te blokkeer en om die liggaam “goed” te laat voel. Een van die gevolge van hartstilstand is ‘n belewenis van om ‘n ligtonnel af te beweeg. Van al hierdie dramatiese fisiologiese gebeure moet die brein ten alle koste sin maak. Die psigologie ten grondslag van die NDE behels uiteraard die brein se vermoë en funksie om alle inligting te integreer tot ‘n “sense-making fiction”. Die mens se totale synsfunksie en omgaan met die werklikheid is ‘n funksie van sy geloof. Dit wat die mens in die uur van die naderende dood ervaar, moet deur die brein gerasionaliseer word. Alle psigologiese denkmodusse en verdedigingsmeganismes word ingespan om aan sy ‘quest for order’ beslag te gee. Die brein se onbewuste missie is om ‘n kennissisteem op te bou wat al die trauma van die ervaring kan vasvang en interpreteer, “and to form patterns of explanation that might help him attain some mastery over his environment” (Kline). Hierdie interpretasie van nuwe gegewens word ALTYD geïntegreer met dit wat die persoon vroeër in sy lewe gehoor het oor die saak, m.a.w. dit wat reeds in sy kennissisteem bestaan. Die sterwende mens se ervaringe word dus binne sy bestaande unieke konseptuele orde geïnterpreteer. Wat die sterwende mens fisiologies ervaar, word geïnterpreteer deur sy konseptuele geloofsraam, streng gesproke ‘n verwagtingshorison. Híérdie geïntegreerde wêreld is die gevolg van alles wat ons van kindsbeen af oor die dood, die hiernamaals, hemel, hel, oordeel, NDEs, ens. gehoor en in ons konseptuele raamwerk skematies geïntegreer het. Die mens wat voel dat hy besig is om te sterf, “verklaar” dit alles aan die hand hiervan. Die sterwende mens se waarneming en ervaring op sy doodsbed is nie ‘n presentasie van die werklikheid nie, maar ‘n representasie, ‘n interpretasie op grond van sy verwagtingshorison. Dis visueel verskerp, maar dikwels vloeiend; dit kan ook ouditiewe sensoriese be-lewenisse word, wat gestalte vind in stemme wat praat. Só word dit dan “gefuse” deur interferensie, sodat dit die gestaltes van goddelike wesens en gestorwe geliefdes kan aanneem. Enige invloed op die temporale lob van die brein kan lei tot “déjà vu”-ervarings, wat dié droomstaatervaring meebring. ‘n Belangrike illusie wat dit veroorsaak, word outoskopie genoem, die sensasie of oortuiging dat die pasiënt homself van ‘n afstand af waarneem. Dr. Greene kom tot hierdie gevolgtrekking: “It would seem that any event that can be produced by stimulations of the brain is not really a vision of the afterlife or a trip to heaven. Such visions are simply a set of neural discharges coming from a complex area of the brain that integrates such functions as vision, emotion, hearing, memory, perception of time, language, moods, attitudes, and social behaviour.”

Dr. Tom Gouws